Matrieks: Só lyk die arbeidsmark wat jy betree

ʼn Matrieksertifikaat is ongelukkig nie werklik goeie voorbereiding vir die moderne werksomgewing nie, het die vakbond Solidariteit Woensdag, kort voor die bekendmaking van die matriekuitslae van 2012, gesê. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vandag in ʼn verslag oor werksvooruitsigte vir matrieks bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark steeds onvriendelik vir jongmense is, selfs al het hulle ʼn matrieksertifikaat verwerf. Die moderne ekonomie vereis meer: meer kennis en die vermoë om daardie kennis toe te pas, en daarom raai die vakbond die matriekgroep van 2012 aan om verdere opleiding te bekom.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, sê dat die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika nie werklik verbasend is teen die agtergrond van ʼn moderne kennisekonomie nie, aangesien minder as 12% van die volwasse bevolking oor tersiêre opleiding beskik. “Die matrikulante wat in 2013 die arbeidsmark wil betree, gaan dit waarskynlik moeilik vind om werk te kry – veral goed besoldigde werk. Volgens die verslag werk slegs 50% van mense met ʼn matrieksertifikaat as hoogste kwalifikasie. Dit is maar ʼn skrale verbetering op die 30% van mense met geen opleiding wat werk het. In teenstelling hiermee het sowat 80% van mense met een of ander tersiêre kwalifikasie ʼn werk. Die beste opsie bly dus om verdere opleiding te kry. Selfs diegene wat nie matriek slaag nie en nie kans sien om dit oor te doen nie, kan hulself verder bekwaam, aangesien naskoolse opleiding nie by ʼn universiteit hoef te wees nie.”

Volgens Joubert kan daar ook duidelik gesien word dat opleiding ʼn baie sterk invloed het op die inkomste wat ʼn werkende persoon verdien. “Slegs sowat 10% van mense wat tydens hul hoërskoolloopbaan skool verlaat het en geen verdere kwalifikasie verwerf het nie, verdien meer as R6 400 per maand. Hierteenoor verdien byna 30% van mense met ʼn matrieksertifikaat as hoogste kwalifikasie meer as R6 400 per maand, en 13% verdien meer as R12 800 per maand. Van die groep wat hulle verder met ʼn sertifikaat of diploma bekwaam het, verdien meer as die helfte R6 400 per maand, 30% meer as R12 800 per maand, en 9,1% meer as R25 600 per maand. Hierdie data toon oor die algemeen presies wat te verwagte is, hoe meer tyd (en geld) iemand aan opleiding afstaan, hoe groter is die beloning. Die data toon ook dat diegene wat pas afgestudeer het, nie moet verwag om met die intrapslag by hul eerste werkgewer dieselfde salaris as ouer werknemers met meer ondervinding te verdien nie. Veral mense met hoër kwalifikasies kan egter wel verwag dat hul vergoeding oor die algemeen redelik vinnig sal toeneem namate hulle ondervinding opbou.”

Joubert sê ʼn deel van die verklaring daarvoor dat soveel mense met matrieksertifikate sukkel om werk te kry, of min verdien indien hulle wel werk kry, is dat hulle eenvoudig nie die regte vakke het of die vereiste prestasie in die regte vakke behaal nie.

“ʼn Baie klein aantal matrikulante behaal jaarliks goeie uitslae in sleutelvakke. In 2011 het slegs 15 771 matrieks 60% of hoër in Rekeningkunde behaal, slegs 24 577 het 60% of hoër in Wiskunde behaal, en slegs 21 840 het 60% of hoër in Fisiese Wetenskap behaal. Hierdie groep was in elk geval tipies ook dié matrieks wat nie direk ná skool die arbeidsmark betree nie en eerder verder studeer. Ten spyte van die gereelde amptelike jubeling oor ʼn verbeterde slaagsyfer is sulke jammerlike proporsies jaar na jaar die skoolstelsel se uitset. Hierdie klein poel matrikulante moet Suid-Afrika se professionele mense soos ouditeure, ingenieurs, dokters en mense in ander tegniese rigtings oplewer. Dit is goeie nuus vir die betrokke matrieks maar slegte nuus as ʼn geheel vir Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte.”

As alternatief vir wanfunksionele staatskolleges het Solidariteit in 2006 ʼn privaat tegniese kollege, Sol-Tech, gestig. Die onderrigmedium is Afrikaans en die kollege lei elke jaar ongeveer 600 vakleerlinge as elektrisiëns, meulmakers, passer-en-draaiers en dieselwerktuigkundiges op. Die kollege het ʼn slaagsyfer van meer as 95%. Solidariteit het ook ʼn nuwe opleidingsinstansie, Akademia, opgerig wat met ʼn telematiese stelsel Afrikaanse kursusse in ander vakrigtings vanaf ʼn sentrale kampus na ander dele van die land uitsaai. Solidariteit se uiteindelike doelwit is om ʼn nuwe kampus in Pretoria te bou waar ʼn uitgebreide Sol-Tech sowel as die nuwe telematiese kollege gehuisves sal word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.