Matriekseun wat deur bloulig-kar getref is uit intensief

Thomas Ferreira. Foto: Facebook

Die matriekseun wat deur die ampsvoertuig van die Gautengse LUR Humphrey Mmemezi raakgery is in Krugersdorp, is uit intensief na ‘n hoësorgeenheid geskuif.

Die DA se woordvoerder van gesondheid, Jack Bloom, sê hoewel Thomas Ferreira (18) nog nie sy bewussyn herwin het nie blyk hy bewus te wees van wat om hom aangaan. Bloom sê Ferreira se toestand het “noemenswaardig verbeter” sedert hy hom Woensdag in die hospitaal besoek het. Die Krugersdorp private hospitaal en Ferreira se gesin wou nie kommentaar lewer nie. Ferreira is op Saterdag 5 November op sy motorfiets onderweg na Randfontein deur ʼn wit BMW X5 raakgery. Hy is na die hospitaal geneem met onder meer ’n gebreekte arm en been, verskeie gesigfrakture en swelling en bloeding op die brein. Bloom sê die premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, wou nie Maandag vrae antwoord oor waarheen die ampsmotor op pad was ten tyde van die ongeluk nie. Hy sê ʼn bron het hom egter meegedeel dat Mmemezi op pad was na ʼn ANC-vergadering. Bloom sê Mokonyane het geantwoord dat die motor se logboek deel uitmaak van die ondersoek. Bloom sê daar is “toenemende misbruik” van “blouligte” in Gauteng en het gevra dat die gebruik daarvan ingeperk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.