Matriekuitslae: Herskryf die geskiedenis – maar dan moet ‘n mens kan skryf

Die reaksies op die matriek-slaagsyfer van meer as 70 persent is met gemengde reaksie begroet. Vir baie was dit ongetwyfeld ‘n reuse prestasie teen die agtergrond van leeromstandighede en die kwaliteit van onderrig, en hulle wat kon uitstyg verdien ‘n klop op die skouer. Hulle is eietydse helde.

Die ander kant van die munt sal oor die volgende paar dae behoorlik ontleed word, naamlik hoeveel van die matrieks wat geslaag het gaan nou ‘n sertifikaat hê wat die papier werd is waarop dit geskryf is. Die punte-vereistes om te slaag is besonder laag – ‘n suksesvolle kandidaat kon vir die helfte van sy vakke minder as ‘n derde van die werk te geken het, aldus koerantberigte.

Universiteitsdosente kla boonop dat hulle jaar vir jaar, oorbruggingskursuse ten spyt, sukkel om baie van hul studente op peil te kry, terwyl hulle terselfdertyd onder druk is om ‘n goeie slaagsyfer te behaal. Daar word gereeld gehoor Suid-Afrikaanse studente staan ver terug vir unieversiteitsgereedheid by studente uit verskeie Afrikalande, waaronder Zimbabwe. Dit beteken nie die prentjie in Afrika, veral Suid van die Sahara, is gesond nie en sommige bronne meen minder as 50% van die kinders van skoolgaande ouderdom bevind hulle op die skoolbanke. Miljarde dollar ontwikkelingshulp het min aan die toestand verander.

Dit beteken dat baie mense in Afrika funksioneel ongeletterd is – al word net vier jaar onderrig normaalweg vereis om ‘n basiese funksionele geletterdheid te verwerf.

In 2008 het adv. Paul Hoffman van die FW de Klerkstigting se sentrum vir grondwetlike regte bevind net een uit 29 matrikulante is funksioneel geletterd. Hoffman stel egter ‘n betreklike hoë standaard vir wat hy as funksioneel geletterd beskou – naamlik die vermoë om die geletterdheid in die werksplek en die alledaagse lewe te kan aanwend.
Ander syfers dui daarop dat net 15 persent van die matrikulante wat nie van huis uit Engelssprekend is nie, maar matriek in Engels geslaag het, funksioneel geletterd is. Wat veral kommerwekkend is, is dat minder as die helfte van die matrikulante hul skoolloopbane in 13 jaar voltooi – baie is dus steeds funksioneel ongeletterd na bykomende skooljare.

‘n Aspek wat hierby aansluit, en lynreg op die funksionaliteit van die demokrasie inwerk, is oningeligtheid. Na die jarelange diksoers en petisies oor die voorgestelde inligtingswetsontwerp het 40 % townshipinwoners volgens ‘n Ikapadata-peiling aangedui hulle het nog nooit van die wetsontwerp gehoor nie. “Die gebrek aan kennis oor een van die belangrikste onlangse politieke debatte is kommerwekkend en dui op ’n gebrek aan politieke inligting en belangstelling onder semi-stedelike inwoners, asook ’n uiters hoë ongelyke toegang tot die media onder Suid-Afrikaners,” het mnr. Jan Schenk van Ikapadata gesê.

‘n Verdere probleem is verskillende persepsies oor die werklikheid, soos wat nou weer manifesteer in die ANC se voorgenome rituele, waaronder ‘n reinigingseremoinie, as deel van sy eeufeesvieringe. Terwyl Christengroepe in afgryse reageer, kap die ANC se kapelaan-generaal terug oor wat hy as onkunde beskryf. Dié praktyke is egter nie nuut nie en sommiges daarvan word al meer as ‘n dekade lank met staatsfondse bedryf.

Die verskille in persepsies blyk byvoorbeeld baie goed uit die SAKP se reaksie op Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak in die gelykheidshof. Volgens die SAKP se verklaring is die saak teen Malema gedryf deur regsgesinde fanatici wat buig of bars daarop ingestel is om die land se geskiedenis te herskryf. Ook Numsa het aangedui dat dié vakbond daarteen gekant is dat die howe die land se geskiedenis moet herskryf.

‘n Onlangse meestersgraad-verhandeling deur die Matie Charl Swart het ook aangetoon hoe verreweg die meeste swart respondente glo dat wit mense swart mense se grond afgevat het soos wat Julius Malema verkondig en blankes daarom misdadigers genoem het, teenoor ‘n betreklike klein, maar groeiende aantal blankes wat dieselfde mening toegedaan is.
Om die blaam voor ongelyke toegang tot die media te plaas is ‘n ingewikkelde probleem. Onlangse syfers toon dat die oplaes van dagblaaie in die hoogs geletterde Nederland in die derde kwartaal van verlede jaar bykans vyf persent minder was as ‘n jaar tevore. Dit geld betaalde sowel as gedrukte koerante, waaronder die grootste koerant, De Telegraaf. Die uitvloei na die elektroniese dagblaaie word egter nie hierdeur verklaar nie, aangesien dit ook met byna een en ‘n half persent gedaal het.

Die antwoord hou dalk meer verband met kwaliteit, of dan die afnemende kwaliteit weens besparings wat deur die ekonomiese toestand te weeg gebring word. Die RC Handelsblad en die NRC Next het gegroei. Die oplaag van ‘n Friesiese koerant het byna met tien persent gegroei, iets wat waarskynlik aan die heropbloei van die Frysk- (Friesiese) bewussyn toegeskryf kan word.

Die kern van die probleem in Suid-Afrika is dat die druk op funksionele geletterdheid, of die gebrek daarvan, die persepsiekloof in Suid-Afrika verdiep, omdat sy toegang tot inligting en die karakter van daardie inligting verskil. In beginsel is dit nie in ‘n demokrasie ongesond nie, maar as dit polariserende persepsies verdiep en ‘n konflikklimaat verhoog, moet noodwendig gekyk word hoe die oorhoofse probleem aangespreek kan word.

‘n Nasionale dialoog, ‘n opvolg-Kodesa as’t ware, raak al hoe nodiger.

Dit moet noodwendig wag – die ANC se koppe is nou in die euforie van eefeesvieringe vasgevang – al word ‘n Mugabe as voorbeeld van ‘n besoekende buitelandse staatshoof voorgehou om luister te verleen. Vir baie Suid-Afrikaners is dit ‘n simptoom van ‘n verleentheid dat hierdie globale uitvaagsel hier as held voorgehou word. Die verhoogde matriekslaagsyfer word nou eufories omarm, met die demper nie die vrae oor die kwaliteit nie, maar dat die Wes-Kaap onder ‘n DA-bewind weer die posisie van boonste sport bereik het, terwyl dit onder sewe jaar van ANC-bewind die kreeftegang gegaan het.

Uit die internet-kommentare hieroor is dit egter ook duidelik dat persepsies oor die redes hiervoor lynreg saam met die raslyn loop, en dat dié persepsies van verskillende planete kom.

Intussen is dit gemene saak – funksionele geletterdheid is ‘n ernstige probleem en moet aangespreek word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae