Matriekuitslae ‘n foefie, sê Equal Education

Alhoewel die verbetering van die matriekslaagsyfer van 70.2% gevier word, het Equal Education hul sorg uitgespreek en gesê dat die algehele slaagsyfer ‘n foefie is.

Equal Education (EE) het die bykans 348 257 leerders wat die matriekeksamen geslaag het, gelukgewens, maar in dié vroeë stadium hul kommer oor verskeie aspekte uitgespreek. Volgens EE het die totale getal van matrikulante gedaal van 537 543 in 2010 tot 496 090 in 2011. Dit is ‘n daling van 41 453 leerders en verteenwoordig 8%. EE sê dat dit die 2.4% styging in die algemene slaagsyfer oorskadu. Een van die redes wat hulle hiervoor aanvoer is die obsessie met die algehele slaagsyfer wat in ‘n landswye kultuur ontaard het waar skole swakker leerders ontmoedig om die eksamen af te lê.

Equal Education het ook gesê dat ten minste 923 463 leerders in 2000 begin het met graad 1, maar dat slegs 496 090 die matriekeksamen in 2011 afgelê het. Bykans die helfte van die leerders het dus die skool intussen verlaat. Volgens Equal Education kan die ware slaagsyfer vertolk word as slegs 38%, wanneer ‘n mens al die leerders wat in 2000 met skool begin het, in ag neem. EE sê dit is ‘n verbetering op 2010 maar dit bly ‘n ontnugtering.

Equal Education sê ook dat die getal leerders wat wiskunde as vak neem en dit slaag ook gedaal het. Matrikulante wat wiskunde geslaag het, het gedaal van 124 749 in 2010 tot 104 033 in 2011. Dit verteenwoordig ‘n daling van 20 716 leerders, of 17%. EE sê verder dat slegs 1 uit 5 matrikulante wiskunde slaag, selfs aal is die slaagsyfer vir wiskunde 30%. Slegs 21% van diegene wat die matriekeksamen afgelê het, het dus meer as 30% vir wiskunde ontvang, sê EE.

Volgens Equal Education sal hulle die 2011 Tegniese Verslag en data wat nog nie aan die publiek bekendgemaak is nie, noukeurig ondersoek voordat hulle finale gevolgtrekkings maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.