McBride ooglopend nie geskik vir Opod-pos nie

Robert McBride. Foto: Werner Beukes/SAPA

Robert McBride. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die vakbond Solidariteit het Vrydag die portefeuljekomitee oor polisie se ondersteuning van Robert McBride se benoeming as uitvoerende direkteur van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) as onaanvaarbaar bestempel. Solidariteit win tans regsadvies in om sy aanstelling, sou dit gefinaliseer word, regtens te beveg.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê dit is so voor die hand liggend dat McBride nie ʼn geskikte aanstelling is nie, dat ʼn mens nie anders kan as om te wonder wat die ANC dryf om daarmee voort te gaan nie. Buys vervolg: “McBride se geskiedenis plaas sy geskiktheid vir die posisie onder soveel verdenking dat ʼn mens eenvoudig die volgende vrae moet vra: Wat is die aard van die druk wat McBride op die ANC uitoefen? Wat is McBride bereid om in dié posisie te doen wat dit so belangrik maak dat juis hy aangestel moet word?”
Volgens Buys is Suid-Afrika se belastingbetalers keelvol om te sien hoe herhaaldelik verkeerde aanstellings deur hul swaarverdiende geld gefinansier word. Belastingbetalers moet magteloos toekyk hoe kaderontplooiing bo behoorlike dienslewering gestel word. “Die blote oorweging van ʼn persoon met McBride se agtergrond vir die posisie as hoof van ʼn liggaam wat as waghond oor die polisie optree, is verregaande en stuur die verkeerde boodskap uit. Dié pos vereis ʼn geloofwaardige persoon wat vertroue inboesem. McBride se benoeming ondermyn die grondwetlike bepaling dat die openbare administrasie ʼn hoë standaard van professionele etiek moet bevorder en onderhou.”
Buys sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se grondwetlike mandaat is om, onder andere, misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek. “Die waghondfunksie wat Opod moet vervul om misdaad binne die SAPD te ondersoek, is van kardinale belang. Indien die regering ernstig is om Suid-Afrika se beeld plaaslik sowel as internasionaal te herstel en te bevorder, moet McBride se benoeming vir die pos onmiddellik teruggetrek word. Andersins sal die polisiediens en Opod nie hul onderskeie mandate om die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm en veilig te hou, met geloofwaardigheid kan uitvoer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Dankie Solidariteit …. laat ons van die vuilgoed ontslae raak!

Chris ·

Hierdie affere, want ‘n persoon kan hy nooit wees nie, was nie eers ‘n goeie MK ondersgeskikte troep nie, hoe sal hy nou die Polisie se sake kan hanteer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.