“McBride se benoeming nog ʼn klad op die polisie se naam” – Solidariteit

Flip Buys

Flip Buys

Die veroordeelde moordenaar Robert McBride se benoeming as nuwe hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is ʼn klap in die gesig vir wetsgehoorsame burgers, het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê. McBride se benoeming is ʼn verdere skandvlek vir die reeds beleërde Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Solidariteit win tans regsadvies in en indien McBride se aanstelling goedgekeur word, sal die vakbond namens sy lede die aanstelling regtens beveg.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Suid-Afrika se belastingbetalers is keelvol om te sien hoe herhaaldelike verkeerde aanstellings deur hul hardverdiende geld gefinansier word. Belastingbetalers moet magteloos toekyk hoe kaderontplooiing bo behoorlike dienslewering gestel word. “Die blote oorweging van ʼn persoon met McBride se agtergrond vir die posisie van hoof van ʼn liggaam wat as waghond oor die polisie optree, is verregaande en stuur die verkeerde boodskap uit. Dié pos vereis ʼn geloofwaardige persoon wat vertroue inboesem. McBride se benoeming ondermyn die grondwetlike bepaling dat die openbare administrasie ʼn hoë standaard van professionele etiek moet bevorder en onderhou. Die feit dat minister Nathi Mthethwa enigsins McBride vir die posisie oorweeg, is ʼn aanduiding dat die polisiebestuur nie sy grondwetlike mandaat ernstig opneem nie, maar eerder die ANC se beleid van kaderontplooiing ten alle koste wil voortsit.”

Buys sê die polisie se grondwetlike mandaat is om, onder andere, misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek. “Die waghondfunksie wat Opod moet vervul om misdaad binne die SAPD te ondersoek, is van kardinale belang. Burgers wil die versekering hê dat dié rol met integriteit, deursigtigheid en die nodige erns vervul sal word. McBride se geskiedenis plaas sy geskiktheid vir die posisie onder verdenking en sal daartoe lei dat vertroue in die SAPD verder kwyn. Indien die regering ernstig is om Suid-Afrika se beeld plaaslik sowel as internasionaal te herstel en te bevorder, moet dit McBride se benoeming vir die pos onmiddellik terugtrek. Daarsonder sal die SAPD nie sy mandaat om die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm en veilig te hou, met geloofwaardigheid kan uitvoer nie.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Erich Goosen ·

Ek weet dis baie gevra van die kabinet om ‘n eerlike antwoord op die vraag te gee maar ek wonder as hul wil eerlik wees, of hul McBride vir die pos sou aanbeveel as hy ‘n bom in ‘n sjebeen in pleks van Magoos Bar geplant het?

Demokraat ·

Erich, buiten die bom in Magoos Bar, het McBride ‘n ellelange lys van misdade en veroordelings wat hom sonder twyfel diskwalifiseer vir enige pos in die regeringsdiens. Maar ons weet mos al by die tyd dat geskikheid vir ‘n pos asook ‘n skoon misdaadrekord nie ‘n vereise is nie – nee slegs lidmaatskap aan die ANC-party en getrouheid aan die president.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.