McDonalds-promosie maak klant die josie in

ʼn Gratis roomys wat by ʼn McDonalds-restaurant “gewen” is, het eerder ʼn suur smaak in ʼn klant se mond gelaat.

Judy-Marie Steenkamp van Pretoria het aan Maroela Media gesê sy en haar gesin was Maandag by die McDonalds-restaurant in Waterkloofrif toe haar seun ʼn gratis roomys met hul nuwe Mzansi Millions-promosie gewen het. McDonalds Suid-Afrika het Maandag dié advertensieveldtog landswyd bekendgestel.

Toe die seun egter die roomys wou eis, het die personeel glo steeks geraak en nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie. Die bestuurder se hulp is ingeroep, wat ook nie geweet het hoe die kompetisie werk nie, en het vir Steenkamp gesê hulle kan die prys eers ná 24 uur eis. Dit strook egter nie met die kompetisie se bepalings en voorwaardes nie. Steenkamp het tevergeefs die bestuurder van hul eie veldtog probeer touwys maak en is uiteindelik daar weg, sonder die roomys.

“Die voorval het my ontstel, hoe kan ʼn bestuurder nie weet hoe hul eie promosies werk nie? Dit was om soos met ʼn muur te praat,” het sy gesê.

Maroela Media het die voorval onder Sechaba Motsieloa, McDonalds Suid-Afrika se direkteur van korporatiewe sake, se aandag gebring. Motsieloa het gesê dit is ʼn jammerte dat die voorval gebeur het en ʼn klant daardeur ontstel is. “Ons het pas dié veldtog bekendgestel en soms is daar groeipyne met nuwe kompetisies. Ons het egter die probleem aangespreek. Ons het die betrokke tak tesame met ander takke weer ingelig oor hoe die nuwe kompetisie werk, om te verhoed dat dit nie weer gebeur nie,” het Motsieloa gesê.

Hy het onderneem om Steenkamp persoonlik te bel en om verskoning te vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mike ·

Blacksmith jy slaan daai spyker op sy kop. Ek koop nie daar nie want ek wil nie nog ‘n trogvark ryker maak nie.

Boskind29 ·

Blacksmith, dalk moet jy eers leer spel voordat jy sulke onsin kwytraak. ONCE.

Pierre ·

Ag shame, gee my Judy-Marie Steenkamp se nommer dan transfer ek vir haar nou R5 om tog net daai roomys te kan bekostig nadat die gesin seker platsak is na die 4 mega meals, upsized!

Regtig!? is dit waarmee ons onself ophou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.