Mdluli en die statutêre staatsgreep

President Jacob Zuma: Foto: The New Age

Dit is nog gans te gou om afleidings te maak uit waarnemers se gewaarwording dat pres. Jacob Zuma die afgelope week hom skynbaar meer teruggetrek het, en wanneer hy wél sy verskyning maak en optree, soos by die begrafnisdiens van minister Roy Padayachie, hy lyk en klink soos iemand wat ‘n paar harde houe op die ken weg het.
Zuma, as president, kan nie oral wees nie. Tog lyk dit of die geleenthede wat hy delegeer, meer pertinent word en dalk nie so uit vrye keuse kom soos wat amptelik blyk nie.
Pas is bekend gemaak dat die omstrede hoof van die polisie se misdaadintelligensie, Richard Mdluli, na ‘n ander pos verskuif is. Dit is duidelik ‘n kompromishandeling, te midde van sterk eise dat hy weer geskors moet word, en dat die vervolging aan misdade waarvan hy verdink word, voortgesit moet word. Of diegene wat die hardste hiervoor dryf gaan skik vir die verskuiwing is onwaarskynlik, en die saak kan ‘n draai in die hof gaan maak.
Die ANC se ontkenning dat Mdluli vir die pos van polisiehoof bestem was of is, is onsinnig. Die argument is dat daar reeds ‘n polisiehoof is, maar dié is geskors en sal selfs, al oorleef hy die ondersoeke teen hom, weens politieke afvalligheid waarskynlik nie in ere herstel word nie.
Maar Mdluli is maar een simptoom van ‘n hele aantal sake wat vir Zuma suur geword het, waarvan ‘n groot deel in die howe geskied het. Danksy ‘n saak deur die DA, gaan dokumentasie oor hoekom die vervolging teen Zuma gestaak is onder die vergrootglas beland.
Danksy ‘n regsgeding deur ‘n privaat individu word die omstrede wapenstransaksie ondersoek, hopelik behoorlik.
Danksy ‘n hofsaak is die omstrede e-tolstelsel voorlopig altans gestuit, en gaan sensitiewe dokumentasie onder die vergrootglas beland. Voorlopig lyk dit of heelwat wurms in hierdie geroeste blikkie kriewel as die sonlig daarop val.
Die ITC-Kumba-saak lyk of dit met ‘n groot knal in die ANC se gesigte kan ontplof, en hier word ‘n seun van Zuma geïmpliseer.
Na soveel houe op die ken sou enigeen se knieë wankel. In die proses lei adjunk-president Kgalema Motlanthe nou ‘n groot sake-afvaardiging na Duitsland, en is Motlanthe ook aangewys om die taakspan te lei wat die land uit sy e-tolkrisis moet lei.
Matthews Phosa was ‘n prominente figuur in die samesprekings wat pas met ‘n groep Afrikaanse meningsvormers gevoer is.
Onlangs nog moes Motlanthe en ander, soos Phosa, voor die media ‘n knieval van onderdanigheid voor ‘n glimlaggende Zuma doen. Die media het hierdie triomfpoging van Zuma as ‘n narrespel afgemaak.
Dit is ook hopeloos te vroeg, selfs al sou die vroeë aanduidings bevestig word dat Zuma geskud is, om dit met die bekende geval te vergelyk waar wyle pres. PW Botha eenkant toe geskuif is.
Selfs al trek Zuma hom nou onder druk, of selfs dwang van die ANC se ringkoppe terug, het hy steeds die vermoë om met ‘n groot magsvertoon terug te keer. Tensy hy natuurlik laat verstaan is dat so ‘n terugkeer gepaard sal gaan met ‘n hele paar geraamtes waarvan tot dusver nie geweet is, wat daarmee saam uit die kas gaan tuimel.
Die SAUK-TV het pas met groot fanfare aangekondig hoe Zuma se kanse vir herverkiesing teen die einde van die jaar ‘n groot hupstoot gekry het toe die invloedryke ANC-streek in die omgewing van Durban sy volmondige steun aan Zuma toegesê het. Dit het klaarblyklik nie Zuma se gemoed verbeter nie. Daar was immers geen teken dat hierdie duidelike steunuitdrukking momentum na ander streke aan die gang gesit het nie.
Zuma het in baie opsigte gedobbel. Hy het sleutelaanstellings gedoen, maar in die proses het die dobbelsteentjies verkeerd geval.
Hy het wyd aan gehore verkondig wat hulle wil hoor, maar weens onder meer kaderontplooiing ontbreek die kapasiteit op die leweringsvlak om daardie beloftes gestand te doen.
Maar min mense wat al ervaring van Zuma het, verwag dat hy nie binnekort weer soos ‘n prop na bo sal skiet, en as selfversekerde wat te lekker vir sy eie grappies lag, weer die leisels stewig beet sal hê nie.
Suid-Afrika hou asem op, te midde van ook ‘n groeiende en uitgesproke besef dat die land hom nie langer kan bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.