Richard Mdluli, voormalige hoof van die Polisiediens se misdaadintelligensie-eenheid, het Vrydag bekend gemaak hy gaan die polisie in die arbeidshof oor sy skorsing aanvat.
Mdluli is Sondag vir die tweede keer geskors ná hy verlede jaar geskors was nadat klagtes van bedrog en moord teen hom aanhangig gemaak is. Hy is in Maart weer aangestel. Op 9 Mei het Nathi Mthetwa, minister van polisie, aangekondig dat Mdluli, onmiddellik uit sy pos na ʼn ander afdeling geskuif moet word.
Luitenant-kolonel Lindela Mashigo, ʼn polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie se regsafdeling het dokumente van Mdluli se prokureurs ontvang en dat hulle die saak Maandag omstreeks 10:00 in die arbeidshof sal aanvat.