Medelye stroom in vir Mbuli

Foto: Twitter

President Jacob Zuma, politieke partye en ander bekendes het hulde gebring aan Vuyo Mbuli (46), bekroonde televisie- en radioaanbieder van die SABC, wat Saterdagaand oorlede is.

Die SABC berig dat Mbuli Saterdagaand tydens die Superrugby-wedstryd tussen die Cheetahs en die Reds flou geword het. Hy is op die toneel behandel voor hy na die Mediclinic in Bloemfontein gehaas is waar hy later oorlede is. Zuma het Mbuli geloof vir sy bydrae en gesê sy dood is ʼn verlies vir die land. “Dis moeilik om aan ʼn meer patriotiese en positiewe persoon te dink as Vuyo,” het Zuma in ʼn verklaring gesê. Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, sê Mbuli, wat ʼn aanbieder was op Morning Live en SAFM, het toewyding en lojaliteit gewys vir sy werk. “Hy was een van die eerste aanbieders toe Morning Live in 1999 begin het en het in die posisie gebly tot sy ontydige dood.” Leanne Manas, Mbuli se mede-aanbieder van Morning Live, het op Twitter gesê: “Ons het toorkuns saam gemaak vir twee ure elke oggend vir nege jaar. Ek is platgeslaan. Nie seker hoe om dit sonder jou te doen nie. Ek gaan jou so baie mis.”

Aartsbiskop Desmond Tutu sê Mbuli was ʼn “konstante bemoedigende teenwoordigheid op ons televisieskerms oor twee onstuimige dekades.” Kirsten Nematandani, hoof van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, sê dit is moeilik om die verlies wat Suid-Afrikaners voel na Mbuli se afsterwe te verwoord. Nic Dawes, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, sê die forum is baie hartseer oor die afsterwe van ʼn “geliefde en gerespekteerde joernalis.” Die Menseregtekommissie, die premier van Gauteng Nomvula Mokonyane, die burgemeester van Kaapstad Patricia de Lille, die DA, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, die Nelson Mandela-kinderfonds en verskeie ander organisasies het ook hul medelye betuig.

ʼn Woordvoerder van die Mbuli-familie het aan die SABC gesê die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.