Media was nie verkeerd om Kotze se naam te publiseer nie, sê NPA

Verdagte Johan Kotze tydens sy inhegtenisname. Foto: www.ecr.co.za

Mediahuise het geen misdryf gepleeg deur Johan Kotze se naam te noem of om besonderhede van sy vermeende misdryf te publiseer voordat hy in die hof verskyn het nie, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) Vrydag gesê.

“Deur sy naam bekend te maak het die media hoegenaamd nie sy saak benadeel nie,” het Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die NPA gesê. “Hy was ʼn voortvlugtige na wie die polisie op soek was,” het hy gesê. “Deur sy naam te noem en sy foto te publiseer het die media gehelp om hom te identifiseer.” Alhoewel daar nie ʼn algemene wet is wat iemand verhoed om ʼn verdagte se naam bekend te maak voordat hy in die hof verskyn nie, mag ʼn persoon wat van onsedelikheid of uitbuiting aangekla word se naam kragtens die Strafproseswet nie bekend gemaak word voordat hulle daarop gepleit het nie.

Mhaga sê egter dat wanneer ʼn persoon vlug “dit die hele dimensie daarvan verander”. In so ʼn geval kan lede van die gemeenskap die polisie bystaan om hom aan te keer, het hy gesê.

Kotze het Vrydag in die landdroshof in Modimolle verskyn op aanklag dat hy sy tienderjarige stiefseun doodgeskiet het en ʼn aanval op sy vervreemde vrou gereël het. Kotze en sy 42-jarige mede-beskuldigde staar 17 aanklagte in die gesig, insluitend moord, sameswering tot verkragting, verkragting, seksuele aanranding, ontvoering en algemene aanranding. ʼn Mensejag vir Kotze is van stapel gestuur toe hy in ʼn wit Toyota Fortuner gevlug het nadat hy glo sy stiefseun op 3 Januarie by sy huis in Modimolle geskiet het en drie mans glo met ʼn geweer gedwing het om sy vrou om die beurt te verkrag. Kotze is Woensdag in Modimolle in hegtenis geneem.

“Die media het ʼn groot rol gespeel in sy inhegtenisname. So in hierdie geval was dit geregverdig om sy naam bekend te maak,” het Mhaga gesê. Webber Wentzel se media-prokureur, Okyerebea Ampofo-Anti het gesê dit is onduidelik of onsedelikheid of uitbuiting van toepassing gaan wees in Kotze se saak. “In elk geval, hy was in die tyd wat sy naam bekend gemaak is, nog nie van enigiets aangekla nie, omdat hy steeds voortvlugtend was,” het sy gesê.

Ampofo-Anti het verwys na ʼn individu wat in ʼn onlangse saak in die hoogste hof van appèl aangewys is dat hy by ʼn verskeidenheid van kriminele aktiwiteit betrokke was, ʼn koerant vir naamskending gedagvaar het. In hierdie geval het die hof beslis dat elke saak op sy eie meriete hanteer moet word om vas te stel of dit van openbare belang was dat die verdagte se naam bekend gemaak moes word. “Die hof het bevind dat die publikasie wel van openbare belang was, aangesien dit die publiek aangemoedig het om met meer inligting vorendag te kom om die polisie by te staan,” het Ampofo-Anti gesê. “In die lig van die feit dat Kotze ʼn voortvlugtige van die gereg was wat aktief deur die polisie gesoek is, was die media nie onder enige verpligting om sy identiteit te verdoesel nie.”

Mail & Guardian ombudsman Franz Kruger, wat die boek Black, white and grey: journalism ethics in South Africa geskryf het, het gesê die spesiale omstandighede rondom Kotze se saak het dit aanvaarbaar gemaak dat sy naam gepubliseer mag word. “Die spesiale omstandighede was dat hy gesoek was,” het Kruger gesê. “Die polisie wou sy identiteit bekend maak sodat hulle hom kon vastrek.” Kruger sê dat mediahuise moes versigtig omgaan met hulle woordgebruik wanneer hulle oor die saak verslag gedoen het. Joernaliste moes dit duidelik stel dat Kotze ʼn aangeklaagde is wat nog nie skuldig bevind is nie. Kruger sê dat mense se name gewoonlik in hoëprofiel-sake bekend gemaak word en dan aanvaar mense maklik dat hulle skuldig is en dat daar nie werklik iets is wat mens kan doen om dit te verhoed nie. “Die media moet dit duidelik stel dat hy slegs ʼn verdagte is wat nog skuldig bevind mag word,” het hy gesê. “Wanneer hulle verslag doen en opskrifte byskryf moet dit duidelik wees dat die verdagte nog nie skuldig bevind is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.