Media24, Weideman beboet oor Els-storie

Die voormalige redakteur van Huisgenoot, You, en Drum en die maatskappy wat dié publikasies besit, Media24, is Woensdag beboet nadat hulle bewerings van seksuele molestering gepubliseer het teen die Afrikaanse sanger Jurie Els.

Regter Daniel Dlodlo het Weideman, tans uitvoerende hoof van Media24, Woensdag ʼn boete van R15 000 opgelê in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Media24 is met R60 000 beboet. Weideman en Media24 moet ook Els se regskostes betaal. Hulle het 14 dae om hulle boetes te betaal. Els se regspan het gevra dat Weideman met R100 000 beboet word of dat sy tronkstraf van ses maande ontvang, wat vir drie jaar opgeskort word. Weidemann is in September verlede jaar in die appèlhof in Bloemfontein aan minagting van die hof skuldig bevind. Dit volg nadat ʼn artikel in Februarie 2008 gepubliseer is waar die sanger Robbie Klay vertel van sy beweerde seksuele molestering deur Els. Els het ʼn tydelike interdik teen die publikasie van die artikel gekry maar die tydskrifte het toe wel ’n gesensureerde weergawe van die artikel gepubliseer. Weideman het egter in haar redakteursbrief genoem dat Els ʼn interdik teen die tydskrifte gekry het. Els het ook ’n siviele eis vir laster van R5.5 miljoen gesamentlik en onderskeidelik teen Weideman en Media24 ingestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.