Mediamagnaat sir David Barclay (86) sterf

Sir David Barclay (links) en sy tweelingbroer Sir Frederick nadat hulle by die Buckingham-paleis tot ridder geslaan is deur koningin Elizabeth II. (Foto: Michael Stephens/AFP FILES/AFP)

Sir David Barclay, die geheimsinnige Britse miljardêr, eienaar van onder meer die dagblad The Daily Telegraph (ook bekend as The Telegraph) en die Ritz-hotel, is in die ouderdom van 86 dood ná ʼn kort siekbed, het sy koerant Woensdag berig.

Barclay en sy tweelingbroer, sir Frederick Barclay, wat beskryf word deur die koerant as “identies in voorkoms, leefstyl en soms selfs in kleredrag”, het saam ʼn groot sakeryk van verskeping tot kleinhandel opgebou.

“Die Barclay-broers het deurgaans in hul aktiewe sakeloopbaan soos een man te werk gegaan terwyl hulle hul uiterste bes gedoen het om persoonlike publisiteit te vermy en het mediaondersoeke ontmoedig,” het die koerant bygevoeg.

Boris Johnson, Britse eerste minister en voormalige Europa-korrespondent en later rubriekskrywer van The Telegraph, het hulde aan Barclay gebring.

“Vaarwel met respek en bewondering vir sir David Barclay wat ʼn goeie koerant gered het, duisende werkgeleenthede in Brittanje geskep het en wat passievol was oor die onafhanklikheid van sy land en wat dit kan bereik,” het Johnson op Twitter geskryf.

Die Barclay-broers het die mediabedryf in 1992 betree toe hulle The European, ʼn weeklikse koerant wat twee jaar tevore deur die mediamagnaat Robert Maxwell van stapel gestuur is, aangekoop het.

Hulle het ook die publikasie The Scotsman en later die Konserwatiewe bastion The Daily Telegraph aangekoop.

Die broers, lank voorstanders van klein regering en lae belasting, was stoere ondersteuners van die voormalige Britse eerste minister Margaret Thatcher, en het haar blyplek gegee in hul luukse Ritz-hotel in Londen gedurende haar laaste dae.

Hulle is in 1934 in Londen gebore en het skool op die ouderdom van 14 verlaat om hulle sake-ambisies na te jaag, en het aanvanklik in die eiendomsmark naam verwerf.

Die broers wat op Sark, ʼn eiland in die Engelse Kanaal gewoon het, het verlede jaar in ʼn seldsame openbare rusie betrokke geraak oor die verkoop van die Ritz-hotel aan ʼn swaer van die heerser van Katar. Dié saak het in die hof gedraai.

Hulle is in 2000 tot ridder geslaan, knielend sy aan sy voor koningin Elizabeth II in die eerste dubbele ridderseremonie van die moderne era.

Sir David Barclay was twee keer getroud en laat vier seuns agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.