Medupi-werkers staak weer

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Die Medupi-kragstasie wat nog onder konstruksie is in Limpopo, word deur nog ‘n staking geteister.

“Berigte dat daar vandag weer ‘n staking by die Medupi-kragstasie uitgebreek het, is ‘n aanduiding dat dringende stappe gedoen moet word,” het Natasha Michael, woordvoerder vir die Demokratiese Alliansie, gesê.

Eskom se mediakantoor kon nie dadelik bevestig of daar wel ‘n staking by Medupi is nie.

Castro Ngobese, woordvoerder van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) het gesê sowat 2 000 werkers het Dinsdag by die Medupi-kragstasie gestaak. Hy sê die stakende werknemers is nie lede van Numsa nie.

Michael sê Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, moet ‘n permanente bemiddelling- en onderhandelingspan aanstel om die arbeidsake by Medupi te hanteer. “Só ‘n span kan uit die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie (KVBA) saamgestel word om onderhandelinge aan te help en ‘n vreedsame ooreenkoms bereik kan word,” het sy gesê.

Gigaba se woordvoerder, Mayihlome Tshwete kon nie dadelik hierop kommentaar lewer nie.

Werkers het twee weke gelede weer na hul onderskeie poste teruggekeer nadat hulle vir sowat agt weke lank by die Medupi-kragstasie gestaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.