Meer as 1 000 aktiviste teken in 24 uur aan by die Stop die Moorde-veldtog

Foto: Phillip Bruwer

Meer as 1 000 Suid-Afrikaners het in een dag aangeteken om aktief by AfriForum se veldtog teen plaasmoorde betrokke te raak. Hierdie lede van die publiek het hul betrokkenheid deur middel van die webblad www.stopdiemoorde.co.za verklaar.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat hulle baie beïndruk is met die publiek se entoesiasme om betrokke te raak deur fisies iets te gaan doen om probleme in die land op te los.

“Hierdie is nie ʼn blote petisie waarmee steun gewys word nie, maar dien as platform waarop mense kan aandui of hulle bereid is om betrokke te raak deur tyd aan die saak te wy. Ons was verbaas dat die name so vinnig instroom en het gewonder of mense meen dit is bloot ’n petisie. Ons het toe besluit om die feit dat ons nie met ʼn petisie besig is nie, maar inderwaarheid op soek is na mense wat bereid is om fisies betrokke te raak, sterker op die webblad te beklemtoon. Tot ons verbasing het hierdie invoeging op die webblad tot gevolg gehad dat die name nog vinniger begin instroom het,” het Roets gesê.

AfriForum het die Stop die Moorde-veldtog Dinsdagaand in Pretoria aangekondig. Verskeie van die land se bekendste kunstenaars, waaronder Steve Hofmeyr, Chris Chameleon, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Pieter Koen, Gerrie Pretorius, Adam Tas en Ampie du Preez, het reeds hul steun aan die veldtog verklaar. ʼn Dosyn projekte, waarvan die volledige inligting op die webblad beskikbaar is, is ook aangekondig.

Roets het verduidelik dat die veldtog breedweg op twee bene staan. “Aan die een kant vereis ons optrede van die regering. Ons sal aanhou met ons veldtog en die publiek daarvoor inspan totdat plaasmoorde deur die regering geprioritiseer word en spesialiseenhede vir landelike veiligheid daargestel word. Aan die ander kant sê ons ook dat ons nie agteroor gaan sit totdat die regering optree nie, maar dat ons op ʼn opbouende manier beter na ons eie veiligheid sal omsien deur by gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anita ·

Die tragiese myn voorval wys weereens die eensydige houding teenoor sekere burgers.
Die landsvlag moet halfstok hang orals
maar vir ‘n plaasmoord is daar geen vlag wat sak nie!

daar moet ook kennis geneem word dat op die Kaapse vlakte elke dag die dwelm stryd ‘n familielid laat sterf, selfs die vraag na militere optrede was van die hand gewys, en geen enkel vlag gesak vir hierdie sterf gevalle nie,
is dit nie nou die tyd om ook tekkies aan te trek en tesame na die GROOT HUIS te masjeer nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.