Meer as 100 kersbabas reeds in SA gebore

Meer as 100 Kersbabas is reeds vandag in Suid-Afrika gebore, het amptenare Sondag gesê.

Een-en-veertig babas is in die Oos-Kaap gebore, 20 seuntjies en 21 dogtertjies, het Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die provinsiale gesondheidsdepartement gesê. Die eerste babatjie, Nonzuzo Toliwe is om middernag gebore, en het 2,68 kg geweeg.

In Limpopo is daar reeds 28 babatjies gebore. Die eerste babatjie is by die hospitaal in Bela Bela gebore – ʼn gesonde babadogtertjie wat 3,5 kg weeg. By Van Velden-hospitaal is ʼn tweeling, deur middel van ʼn keisersnit, om 02:55 gebore. ʼn Babadogtertjie is vroeg gebore Polokwane, sy weeg 1,26 kg en is in ʼn gesonde toestand. Die grootste baba is by die Mankweng-hospitaal gebore, ʼn seuntjie wat ʼn allemintige 4,29 kg geweeg het.

In Kwa-Zulu-Natal is daar reeds 27 babas gebore: 14 seuntjies en 13 dogtertjies. Twee van hierdie babas se moeders is tieners. Die eerste babatjie in dié provinsie (ʼn 2,8 kg seuntjie) is ʼn minuut ná twaalf by die Northdale-hospitaal gebore. ʼn Babadogtertjie van 3,6 kg het ʼn minuut later haar opwagting gemaak by Addington-hospitaal.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir provinsiale gesondheid, het die oorstelpte ouers geluk gewens. “ʼn Kind se skitterende ogies, ʼn ouma se vreugdevolle gelag, en die liefde in die pappas en mammas se harte vir hulle kinders is ʼn seëngeskenk wat op Kersoggend oopgemaak kan word en regdeur die jaar ervaar kan word,” het hy tydens sy besoek aan die Prince Mshiyeni-hospitaal gesê. Dlomo het hom egter teen die hoë koers van tienerswangerskap uitgespreek en gesê dit is ʼn probleem wat ons almal moet aanspreek.

Die eerste van 44 babas in Mpumalanga is by die hospitaal in Piet Retief gebore. Sy het 3,9 kg by geboorte geweeg. John Mlangeni, provinsiale woordvoerder, het gesê 36 van die babas is seuntjies en 8 is dogtertjies.

In die Wes-Kaap is 21 babas reeds in provinsiale hospitale gebore: 11 dogtertjies en 12 seuntjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.