SANParke het Dinsdag aangekondig dat 26 van dié renosters in die Krugerwildtuin doodgemaak is terwyl daar reeds 13 renosters in Limpopo doodgemaak is. Die uitvoerende hoof van SANParke, David Mabunda, sê dit is kommerwekkend dat soveel renosters al vanjaar doodgemaak is. Hy sê 30 vermeende renosterstropers is reeds in hegtenis geneem. “Bewaringsagentskappe en die polisie sien ʼn toename in ondersteuning van die publiek wat gelei het tot inhegtenisnemings in die Krugerwildtuin en sommige provinsies. Die moeilikheid is egter om die vermeende renosterstroper aan die misdaad te verbind aangesien ons te doen het met baie uitgeslape en gesofistikeerde individue.”
Intussen sal vyf vermeende renosterstropers Woensdag in die Brits landdroshof in Noordwes verskyn. Die mans, tussen die ouderdomme van 43 en 59, is Dinsdag in hegtenis geneem. ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Thulani Ngubane, wou nie bekendmaak waar die mans in hegtenis geneem is nie aangesien dit moontlik toekomstige operasies in gedrang kan bring. The Star berig dat die mans in ʼn skietgeveg met die polisie betrokke was voor hulle in hegtenis geneem is.