Meer verdoemende bewyse het Woensdag in die Durbanse hooggeregshof aan die lig gekom tydens die moordverhoor van die voormalige Bloubul-rugbyspeler, Phindile Joseph Ntshongwana.
Lt.kol. Jason McGray, vir die staat, het getuig dat ʼn byl wat in Ntshongwana se hond se hok by sy huis in Yellowwoodpark in Durban gevind is, met die wonde ooreenstem van sy vier vermeende slagoffers wat hy glo met dié wapen doodgekap het.
McGray het ook getuig dat ʼn skoenpunt op die eerste moordtoneel gevind is wat identies is aan dié van ʼn hardloopskoen wat in Ntshongwana se huis gevind is. Dié skoen se punt word glo vermis.
Maroela Media het vroeër berig die eerste van die verdoemende bewyse het Maandag in hof aan die lig gekom nadat spore van menslike bloed in sy badkamer gevind is. Lees meer hier.
Ntshongwana word aangekla van die moord op Thembelenkosini Cebekhulu in Montclair op 20 Maart 2011. Hy het na bewering twee dae later Paulos Hlongwa vermoor en vir Simon Ngidi die dag daarna. Hy word ook verdink van die moord op ʼn onbekende man later die week. Hulle is almal met ʼn byl doodgekap.
Ntshongwana word verder aangekla van die ontvoering en verkragting van ʼn vrou op 28 November 2010 in Durban. Hy het op al die aanklagte onskuldig gepleit.
Die saak duur voort.