Meer mense oor Paasnaweek dood

Argieffoto

Voorlopige syfers dui aan dat ten minste 241 mense oor die Paasnaweek op die land se paaie gesterf het.

“’n Totaal van 201 noodlottige ongelukke is tydens die Paasnaweek aangemeld,” het Ben Martins, minister van vervoer, Maandag gesê. “Dit is betreurenswaardig dat dié jaar se voorlopige padsterftesyfer hoër is as verlede jaar s’n,” het hy bygevoeg. ‘n Totaal van 217 mense is in 2012 in 181 noodlottige ongelukke oorlede.

“Die finale syfer sal vrygestel word sodra die SA Polisiediens en die verkeersbeamptes alle beskikbare inligting rekonsilieer het,” het Martins bygevoeg. Martins sê meeste mense wat oorlede is was voetgangers. “Talle passasiers is ook dood weens die feit dat hulle nie veiligheidsgordels gedra het nie. Slegs 2% van passasiers maak gebruik van veiligheidsgordels in teenstelling met 60% van bestuurders.”

Volgens Martins sal daar nou veldtogte van stapel gestuur word om te verseker dat alle passasiers, insluitend passasiers op die agterste sitplek, hulself vasgordel.

Martins sê 250 000 voertuie is tydens die Paasnaweek afgetrek en 79 056 boetes is uitgereik. 1 039 persone se bestuurderslisensies is opgeskort en die polisie het beslag gelê op 1 024 voertuie. “’n Totaal van 864 motoriste is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Sowat 600 van dié motoriste is in woonbuurte in hegtenis geneem.”

Die Paasnaweek het op 28 Maart begin en op 1 April tot ‘n einde gekom. Dit het in dieselfde tydperk as die skoolvakansie plaasgevind en aan die einde van ‘n maand plaasgevind wat die verkeersvolume verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.