Meer as R132 000 aan Nando’s in een maand

nandosDie DA in Noordwes het inligting bekom wat glo aandui dat die Mahikeng-munisipaliteit in een maand R132 585 aan Nando’s-kitskos spandeer het.

Chris Hattingh, die DA se leier in Noordwes, het Donderdag in ʼn verklaring gesê die uitgawes is tussen 15 Maart en 18 April vanjaar deur die munisipaliteit by dié kitskosrestaurantgroep aangegaan.

“Die inligting het aan die lig gekom tydens ʼn komiteevergadering van die Mahikeng-munisipaliteit oor openbare rekeninge,” het Hattingh gesê. “Die munisipaliteit kan nie dokumentasie vir dié aankope, óf redes daarvoor verskaf nie. Ek het dit onder die ouditeur-generaal (OG) se aandag gebring, wat bevestig het dat daar rede vir kommer is. Omdat daar egter geen dokumentasie is nie, is die OG in die stadium nie in staat om vas te stel wie verantwoordelik is vir hierdie aankope nie.

Volgens Hattingh het die munisipaliteit gedurende dié tydperk sowat R3 789 per dag bestee aan Nando’s.

Dit is gelykstaande aan 4 434 hoenderburgers, 947 gesinspakke en 4 928 stukke kwarthoenders.

“Dit is ‘n onaanvaarbare vermorsing van belastingbetalers se geld. Die geld kon eerder bestee word aan dienslewering soos water, elektrisiteit, behuising en om paaie beter te maak vir die mense van Mafikeng,” het Hattingh bygevoeg.

Hy het gesê dat almal mal is oor Nando’s, maar amptenare moet dit uit hul eie sakke koop.

Maroela Media het Donderdag die munisipaliteit genader vir kommentaar. Die burgemeester was nie beskikbaar nie en Maroela is na die kommunikasieafdeling verwys, waar niemand die telefone geantwoord het nie. Die munisipaliteit het ook teen Vrydag nog nie op ʼn e-posversoek vir kommentaar reageer nie. Die kommunikasieafdeling werk glo tans aan ʼn persverklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

HELENA SEABORNE ·

burgermeesters is nooit available vir kometaar nie. ek wil ok by die mislikepaliteit gaan werk. wat het geword van die reel dat almal sorg vir hulle lunch uit hulle eie sakke. sjoe dit gaan al te lekker in suid afrika.

Jasper ·

Gaan kyk na die mense se kultuur. Met enige Indaba (vergadering / meeting) moet daar eers geslag en geëet word.
Ek het al gesien hoe dit gaan by hotelle waar seminaars of konferensies gehou word. Dan word die helfte van die kos nog huis toe gedra.
Dit sal nooit stop nie.

mariaan ·

Hulle antwoord nie die fone nie, want hulle eet!! Niks sal mens meer verbaas oor wat hulle alles aanvang nie. Daar het defnitief ook baie kospakkies huis toe gegaan. Piesang Republiek!

*G* ·

Nee dis mos te lekker! Wat sal hulle worry. Vreet en word vetter en ander moet betaal!

drieka ·

Hulle kan nie fone antw nie wag vir Nandos om oop te maak en een persoon kan nie die bestelling dra nie Die “gravy” trein hardloop vinniger as die Gautrein

Thea Kluckow ·

Ek dink aan klein kindertjies hier in statte wat saans net water het om te drink voor hul gaan slaap. Ek dink aan mammas met siek babas en ou mense wat swaar loop wat lee hande moet omdraai omdat daar nie medisyne by die klinieke is nie. DIT breek my hart. Intussen steel dit op alle regeringsvlakke die geld wat hiervoor gebruik te behoort word.

Trudi ·

Gaan kyk bietjie aan wie die Nando’s franchise daar behoort !!!!!!!!!!!
Hulle het mos ‘n vinger in elke pie of ‘n vlerkie aan elke Nando’s hoender ………………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.