Meer slegte nuus vir motoriste

Motoriste gaan Maartmaand moontlik hul hande dieper in hul sakke moet druk vir petrol en diesel.

Paul Joubert, senior navorser by Soldariteit se Navorsingsinstituut, het aan Maroela Media gesê weens stygende internasionale petroleumprodukpryse, maar ook weens die swakker rand/dollar-wisselkoers, sal daar na alle waarskynlikheid groot stygings in die pryse van beide petrol en diesel op 6 Maart wees.

“Indien die huidige tendense vir die res van die maand voortduur, kan die prys van petrol met sowat 85c per liter styg en die groothandelprys van diesel met sowat 67c. Dit sal nuwe rekordpryse vir beide petrol en diesel wees, met 93-oktaan petrol wat R12,91 in Gauteng sal kos en die groothandelprys van diesel met 0,05% swawelinhoud op sowat R11,96 per liter,” het Joubert gesê.

Hierdie stygings kan tot ʼn geringe mate teengewerk word deur die waarskynlike daling van die leiheffing, wat met 2,2c of 6,58c per liter kan daal.

“Indien die rand teen die dollar sou versterk en indien internasionale petroleumprodukpryse begin daal, kan die styging teengewerk word, maar die kanse daarvoor is nie baie goed nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christo ·

Hoekom maak hulle nie die brandstof prys R15 per liter nie, dan kan ons gewoond raak daaraan en nie elke maand stres daaroor nie. Die eksta inkomste kan hulle jaarliks gebriuk om brandstof te verlig. Maar nou ja, ekstra geld in die staat se sak, hulle sal n’ alternatief daarvoor vind.

Paul Joubert ·

Christo, jy kan dit mos self doen as jy dit so wil hê. Vat elke maand die verskil tussen die prys wat jy werklik vir brandstof betaal en wat dit sou gewees het as dit R15 per liter was, en spaar dit iewers (koop Sasol aandele daarmee?). Dan, wanneer die prys wel bokant R15 begin styg, vat jy al die geld wat jy gespaar het en betaal jou petrol daarmee.

Dis binne jou eie bereik om te doen presies wat jy voorstel – doen dit net. Waarom wag vir die staat om jou (en alle ander motoriste, wat dit dalk nie wil doen nie) te forseer om dit te doen?

Ook net bygesê – die regering maak NIE meer geld uit heffings op petrol as die prys styg nie (buiten in April elke jaar wanneer die heffings verhoog word). Omdat die heffings vaste bedrae is en nie ʼn persentasie van die petrol- of dieselpryse nie, hang die staat se inkomste uit heffings slegs af van die AANTAL LITER wat verkoop word en NIE van die prys per liter nie. Omdat mense marginaal minder petrol koop wanneer die prys styg, maak die regering in werklikheid MINDER geld wanneer die brandstofpryse styg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.