Mees gesoekte Vrystaat-misdadigers aangekeer

Drie van die mees gesoekte verdagtes in die Vrystaat is in Welkom vir besigheidsroof in hegtenis geneem.

“Die polisie het Vrydagaand ʼn wenk ontvang dat vier mans twee snoepwinkels binne ʼn uur beroof het,” het sers. Mamello Makhuoane, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê. Beide van dié winkels het aan Bangladesjers behoort.

“Die verdagtes het die winkels betree en vuurwapens op die eienaars gerig. Hulle het ʼn onbekende bedrag geld geëis en het ook van die goedere gesteel. Hulle het met ʼn wit Toyota Conquest van die toneel gevlug,” het Makhuoane bygevoeg.

Die voertuig is in Manny’s Town, Welkom, opgespoor. Die 23-jarige bestuurder was steeds in die motor. Sy twee vermeende medepligtiges, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, is later in kroeë in Thabong opgespoor. Die vierde verdagte is steeds op vrye voet.

Al drie mans sal Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaspaas ·

Dit is altyd goeie nuus as die mense aangekeer word maar baie keer is die vreugde van korte duur as ek hoor hulle het uit aanhouding ontsnap, of ‘n ligte vonnis gekry, of selfs weens ‘n gebrek aan kundigheid word hulle weer vry gelaat omdat partykeer die ondersoek beamptes nie deeglik genoeg was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.