Meeste diamante konflikvry

Meer as 99% van diamante waarmee wêreldwyd handel gedryf word, is konflikvry, het Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, Dinsdag gesê.

Sy sê dit het verbruikervertroue in die kommoditeit herstel. Shabangu het aan ʼn vergadering van afgevaardigdes van die regering, diamantbedryf en burgerlike samelewing gesê Suid-Afrika hoop die Kimberley Prosessertifikaatstelsel (KPCS) sal sy wenformule konsolideer en versnel.

Sy sê almal wil seker maak dat hierdie “seldsame en waardevolle kommoditeit” nie as ʼn instrument gebruik word om onskuldige mense te vermink nie.

Die Kimberley-proses, wat tans deur Suid-Afrika gelei word, beoog om seker te maak dat diamante nie gebruik word om geweld deur “rebellegroepe en hul vriende” te finansier nie. Handel in ongeslypte diamante word deur deelnemers aan die KPCS gereguleer en kan slegs met ʼn sertifikaat voortgesit word.

Shabangu het China gelukgewens dat hy as die voorsitter van die Kimberley-proses vir 2014 aangewys is en dat hy die ondervoorsitter in 2013 is.

Sy sê waaksaamheid word vereis om te verhoed dat onwettige diamante die wettige diamantbedryf besoedel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.