Tom Clancy, meester van speurverhale, sterf

Die skrywer Tom Clancy is op die ouderdom van 66 oorlede.

Die skrywer Tom Clancy is op die ouderdom van 66 oorlede.

Die skrywer Tom Clancy, bekend vir boeke soos The Hunt for Red October en The Sum of all fears, is Dinsdag oorlede.

Clancy, wat op die ouderdom van 66 oorlede is, het wêreldwyd meer as 100 miljoen kopieë van sy boeke verkoop en volgens die webtuiste Today het 17 van sy boeke die nommer een-posisie op die topverkoperslys gehaal. Talle van Clancy se boeke is verwerk in suksesvolle rolprente, waaronder The Hunt for Red October, Patriot Games en The Sum of all Fears. Al drie dié films draai om die karakter Jack Ryan.

Clancy se naam het in 1984 vir die eerste keer op die topverkoperslys verskyn met sy boek The Hunt for Red October. Nadat oudpresident Ronald Reagan een jaar ʼn kopie van dié boek as ʼn Kersgeskenk gekry het, het hy tydens aandete opgemerk dat hy nie geslaap kry nie omdat hy nie die boek kan neersit nie. Clancy het later genoem dié opmerking het hom gehelp om die New York Times se topverkoperlys te haal.

Clancy se sukses het egter nie net by boeke en rolprente gebly nie, maar het selfs in die wêreld van videospeletjies sy stempel afgedruk met speletjies soos Tom Clancy’s Splinter Cell Double Agent.

Later vanjaar word daar nóg ʼn rolprent, Jack Ryan: Shadow One, vrygestel wat ook op Clancy se bekende karakter gebaseer is. Volgens Today sal sy nuutste boek, Command Authority, ook in Desember op die rakke wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.