Meisie (18) aan die brand gesteek tydens beweerde sataniese ritueel

ʼn 18-jarige meisie is in ʼn koma nadat sy en ʼn vriendin glo vol petrol gegooi en aan die brand gesteek is tydens ʼn beweerde sataniese ritueel.

Die Star berig die twee meisies, onderskeidelik 18 en 16 jaar oud, was deel van ʼn groep van agt jongmense wat Vrydagaand by die koppie agter die Linmeyer-swembad in Julius straat in Johannesburg bymekaargekom het. Kirsty Theoligia het brandwonde aan 75 persent van haar liggaam opgedoen. Dokters is glo bekommerd oor haar herstel aangesien haar longe en keel erg beskadig is tydens die voorval. Theologia se vriendin, wat ook in die hospitaal behandel word, het glo aan haar familie gesê dat twee seuns besluit het om hulle te offer as deel van ʼn sataniese ritueel. Theoligia se suster, Samantha, sê die groep van vyf seuns en drie meisies het mekaar goed geken en dat haar suster gereeld saam met hulle gekuier het. Die seuns het na bewering petrol oor Kirsty uitgegooi en haar aan die brand gesteek. Haar vriendin het probeer om die vlamme te blus en het in die proses ook brandwonde opgedoen. ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Pinky Tsingane, het aan die dagblad gesê die meisies was glo vasgemaak en dat hulle vermoed dit was ʼn sataniese ritueel. Tsingane sê twee seuns, onderskeidelik 19 en 21 jaar oud, het hulle teen Sondag by die Booysens-polisiestasie oorgegee. ʼn Saak van poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.