Meisie (7) voor Pretoria-skool ontvoer

Pura Pahlo

ʼn 7-jarige meisie is Woensdagoggend voor Laerskool Waterkloof in Pretoria deur haar biologiese pa ontvoer.

Ao. Annabel Middleton, woordvoerder van die polisie, sê Pura Pahlo (7) is vanoggend deur haar biologiese pa, Ray Pahlo, ontvoer nadat haar pleegma haar by die skool afgelaai het. Middleton sê Pura het saam met haar pleegma in die motor voor die skool gesit toe vier mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, die motor genader het. Die mans het aan die pleegma gesê dat sy onder arres is vir ontvoering waarna hulle probeer het om haar hande met kabelbinders vas te maak. Intussen het Pura se pa die passasiersdeur oopgeruk en haar uit die motor gegryp. Middleton sê die pa het met ʼn beige 230E Mercedes Benz met die registrasienommer SPR947GP gevlug. Die vier mans wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle is glo van Zimbabwe afkomstig. Middleton sê die pa het ʼn Amerikaanse en Britse paspoort en gaan moontlik poog om die grens na Lesotho of Zimbabwe oor te steek.

Pura se pleegpa, Evan Andreou, het intussen aan LookLocal gesê dat Pura die afgelope ses jaar onder hulle sorg is. “Ray probeer elke jaar om Pura van ons af weg te neem. Elke jaar daag hy op ʼn prokureur om haar te vat. Ek dink hy het uiteindelik besef dat hy haar nie wettiglik van ons af sal kan wegneem nie en dit is hoekom hy haar ontvoer het.”

Enigiemand met inligting kan ao. Middleton kontak by 078 704 4191.

Ray Pahlo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.