Meisie geskors na sy medeskolier glo met skêr steek

Die helikopter waarmee die meisie na die hospitaal geneem moes word. Foto: ER24

Die 17-jarige meisie wat ʼn medeskolier glo met ʼn skêr in die nek gesteek het, is uit die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton geskors.

Charles Phahlane, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die skool het die meisie geskors hangende die uitkoms van ʼn dissiplinêre verhoor. Hy sê die departement van onderwys in Gauteng het sy eie ondersoek na die voorval van stapel gestuur. Phahlane sê die departement is geskok deur die voorval.

Maroela Media het vroeër berig dat die 16-jarige meisie wat in die nek gesteek is, in ʼn stabiele toestand in die hospitaal is. Sy is glo tydens pouse met die skêr in die nek gesteek nadat sy en die ander meisie glo stry gekry het. Die slagoffer is na die voorval met ʼn helikopter van ER24 na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem waar sy tans aansterk. Intussen het die polisie aan Maroela Media bevestig ʼn saak van poging tot moord word ondersoek. Die 17-jarige is in aanhouding en gaan na verwagting binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.