Meisie ontsnap haar ontvoerders se kloue

ʼn Tiener van Johannesburg wat ʼn lewe van prostitusie onder dwang in die strate van Kaapstad ontvlug het, het ʼn vermeende mensehandelkring in Suid-Afrika oopgevlek, het EWN Maandag berig.

Die 16-jarige meisie is in middel Oktober 2011 in Bramley ontvoer. Nadat sy ʼn dramatiese ontsnappingspoging uitgevoer het, is sy twee maande later met haar ouers herenig. Die tiener het in fyn besonderhede verduidelik hoe sy deur vier mans ontvoer is en gedwing is om ʼn brousel te drink wat haar aan die slaap gemaak het. Sy het in ʼn huis in Khayelitsha wakker geword waar sy verkrag is. Die tiener is ingelig dat sy as ʼn prostituut tussen ander Suid-Afrikaanse tieners sal werk.

Die eerste keer wat sy moes gaan werk het sy probeer om te ontsnap, maar aangesien sy nie ʼn idee gehad het waar sy was nie, het hulle haar dadelik weer gevang. Die tiener het toe met haar ontvoerders onderhandel en glo gesê, “Ek sal nooit weer weghardloop nie. Sal julle my asseblief weer laat gaan?” Die tiener het bevestig dat sy van plan was om weer te ontsnap. Die tweede keer wat sy uit die huis gelaat is, het sy Langstraat in Kaapstad erken en begin hardloop. “Ek het vir myself gesê dat dit beter sou wees as my ouers my dood vind as wat dit sou wees om só te leef vir die res van my lewe,” het sy bygevoeg. Die meisie het uiteindelik by die polisiestasie in Kaapstad aangekom waar beamptes gereël het dat sy met haar ouers herenig kon word. Sy sê sy sukkel nog emosioneel. “Dit was die ergste ding wat nog ooit met my gebeur het. Tot vandag sukkel ek om te slaap, elke keer wat ek my oë toemaak, sien ek hulle gesigte.” Die Valke ondersoek tans die saak en sê dat hulle teen die einde van Januarie met die meisie en haar ouers sal vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.