Meisie sterf na sy glo tydens satanistiese ritueel aan die brand gesteek is

Kirsty Theologo het Vrydagoggend aan haar beserings beswyk.

Die jong vrou wat glo tydens ʼn satanistiese ritueel aan die brand gesteek is, het Vrydagoggend aan haar beserings beswyk.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Loraaine van Emmerik, sê Kirsty Theologo (18) is omstreeks 4:00 Vrydagoggend dood. Theologo het ernstige brandwonde opgedoen tydens die voorval. Van Emmerik sê die klag van poging tot moord, teen die vier mans wat Theologo en haar vriendin na bewering aan die brand gesteek het, sal na ʼn klag van moord verander word. Die vier mans het Dinsdag vlugtig in die Johannesburg landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 1 November vir verdere ondersoek. Die vier mans word by die Booysens-polisiestasie gehou. Die vier mans is Lindon Wagner (21), Robin Harwood (18), Lester Moody (18) en Jeremy King (18). Die mans was glo deel van ʼn groep vriende wat Vrydagnag in die koppies naby Rosetenville, suid van Johannesburg gesit en kuier het. Van die mans het glo later die aand die twee meisies se hande vasgebind en later brandstof oor hulle uitgegooi en hulle aan die brand gesteek. Theologo se vriendin Bronwyn Grammar (16) het haar blykbaar probeer help en het ook brandwonde opgedoen. Twee van die mans het hulself Sondag by die Booysens-polisiestasie oorgegee terwyl die ander twee mans hulle Maandagmiddag oorgegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.