Meisie wat in vrieskas gekry is, naam bekend

Die 9-jarige Danielle Gaysman

Op die dag wat Kinderbeskermingsweek in Suid-Afrika afgeskop het, is die liggaam van ʼn 9-jarige meisie in ʼn vrieskas in haar huis in Pretoria gekry.

Nuus van die dood van Danielle Gaysman, het Sondag skokgolwe deur die klein gemeenskap van Eersterust gestuur. Haar liggaam is Sondagmiddag in ʼn klein vrieskas in haar huis ontdek nadat sy Saterdag omstreeks 15:00 vermis geraak het.

Volgens konstabel Sam Shibambo, ʼn woordvoerder van die Eersterust-polisie, is die kind se ma se kêrel later die dag in hegtenis geneem. “Verskeie bewyse het die man met die beweerde moord verbind,” het Shibambo aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê die kind se ma, Mandy Cornelson, lei aan erge skok.

Shibambo kon nie meer inligting oor die beweerde moord bekend maak nie en het gesê die polisie is besig met die ondersoek. ʼn Lykskouing is aangevra. Hy het wel gesê Gaysman het verskeie beserings aan die bokant van haar liggaam.

Beraders van die departement van onderwys het Maandag leerlinge aan Laerskool Nantes, waar Gaysman skool gegaan het, bygestaan na hulle van haar dood in kennis gestel is. Volgens Clinton Fortuin, hoof van Laerskool Nantes, is die leerlinge geskok en is die nuus vir hulle baie dramaties. “Gaysman was ʼn baie netjiese, stil en rustige meisie,” het hy aan Maroela Media gesê.

Na wat verwag word, gaan die verdagte Maandag in die Pretoria-landroshof op ʼn aanklagte van moord verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.