Mej. Heelal-deelnemer geskors omdat sy as ‘n man gebore is

Jenna Talackova

ʼn Deelnemer aan die Mej. Heelal Kanada-kompetisie is Vrydag uit die kompetisie verban nadat organiseerders uitgevind het dat sy as ʼn man gebore is.

Jenna Talackova (23) word as ʼn transseksueel beskou, alhoewel sy reeds van vierjarige ouderdom haarself as ʼn vrou identifiseer het, het People berig. Teen 14-jarige ouderdom het sy met hormoonterapie begin en het op 19 ʼn operasie ondergaan. Aangesien sy egter nie as ʼn vrou gebore is nie, voldoen sy nie aan die kompetisie se vereistes nie. Tydens ʼn onderhoud in 2010 het Talackova glo gesê: “Ek beskou myself as ʼn vrou… met ʼn geskiedenis.” In ʼn verklaring Maandag het Talackova gesê: “Ek is uiters teleurgesteld met die besluit wat deur die Mej. Heelal organiseerders geneem is. Ek sal egter poog om hierdie voorval te gebruik sodat daar in die toekoms nie teen mense in dieselfde situasie gediskrimineer sal word nie.”

Die nasionale direkteur van Mej. Heelal Kanada, Denis Davila, het gesê daar is seker reëls oor ʼn deelnemer se geslag tydens geboorte. Talackova het op haar registrasievorm aangedui dat sy vroulik gebore is, maar sy het later erken dat sy manlik gebore is. Die reëls van die kompetisie dui aan dat sy ʼn natuurlik-gebore vrou moet wees. Davila het gesê: “Sy het gehoop dat ons haar weer tot die kompetisie sal toelaat, maar die reëls is baie duidelik.” Ten spyte van die organisasie se besluit om haar uit die kompetisie te verban, het Davila gesê dat hulle haar doelwitte en deursettingsvermoë respekteer en haar alles van die beste toewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.