Jenna Talackova (23) word as ʼn transseksueel beskou, alhoewel sy reeds van vierjarige ouderdom haarself as ʼn vrou identifiseer het, het People berig. Teen 14-jarige ouderdom het sy met hormoonterapie begin en het op 19 ʼn operasie ondergaan. Aangesien sy egter nie as ʼn vrou gebore is nie, voldoen sy nie aan die kompetisie se vereistes nie. Tydens ʼn onderhoud in 2010 het Talackova glo gesê: “Ek beskou myself as ʼn vrou… met ʼn geskiedenis.” In ʼn verklaring Maandag het Talackova gesê: “Ek is uiters teleurgesteld met die besluit wat deur die Mej. Heelal organiseerders geneem is. Ek sal egter poog om hierdie voorval te gebruik sodat daar in die toekoms nie teen mense in dieselfde situasie gediskrimineer sal word nie.”
Die nasionale direkteur van Mej. Heelal Kanada, Denis Davila, het gesê daar is seker reëls oor ʼn deelnemer se geslag tydens geboorte. Talackova het op haar registrasievorm aangedui dat sy vroulik gebore is, maar sy het later erken dat sy manlik gebore is. Die reëls van die kompetisie dui aan dat sy ʼn natuurlik-gebore vrou moet wees. Davila het gesê: “Sy het gehoop dat ons haar weer tot die kompetisie sal toelaat, maar die reëls is baie duidelik.” Ten spyte van die organisasie se besluit om haar uit die kompetisie te verban, het Davila gesê dat hulle haar doelwitte en deursettingsvermoë respekteer en haar alles van die beste toewens.