Mej. Heelal-kroon teruggevat ná tikfout

Denise Garrido

‘n Video van ‘n onderhoud met Denise Garrido volg onderaan die berig.ʼn Tikfout het daartoe gelei dat ʼn verkeerde deelnemer verlede week Saterdag as Mej. Heelal Kanada aangewys is.

Organiseerders het Woensdag erken dat ʼn tikfout tot ʼn berekeningsfout gelei het, wat uiteindelik tot gevolg gehad het dat Denise Garrido (26) verkeerdelik as die wenner aangewys is. Sy moes die volgende dag haar satynband en kroon teruggee, berig theaustralian.com.au

“Ek was geskok. Ek het my droom bereik en skielik ná ʼn dag is ek daarvan ontneem,” het Garrido aan AFP gesê nadat sy die geleentheid verbeur het om Kanada in Desember by die Mej. Heelal-kompetisie te verteenwoordig.

Denis Davila, direkteur van die skoonheidskompetisie, het in ‘n verklaring ‘n onervare werknemer vir die tikfout blameer. Die fout het glo ingesluip toe die regters se handgeskrewe punte in ‘n rekenaarprogram verwerk moes word. ‘n Onafhanklike ouditeursfirma het later die fout opgespoor.

Garrido het glo eintlik vierde geëindig. Riza Santos, ook 26 jaar oud, van Calgary, sal Saterdag haar kroon ontvang.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar waarin dié skoonheidskompetisie in omstredenheid gedompel is. Transseksuele model Jenna Talackova het in 2012 ‘n stryd gevoer om aan die kompetisie deel te neem. Sy het uiteindelik die prys vir Mej. Persoonlikheid gewen. Klik hier en hier om meer te lees.

Garrido sê sy sal altyd die oomblik onthou, “al het dit net vir 24 uur lank geduur”.
http://youtu.be/3znde6-v-wQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.