Mens-arm in winkel se vrieskas gebêre

Drie mense verskyn Maandag in ʼn hof in Limpopo nadat hulle glo ʼn Pakistanse vrou vermoor en van haar liggaamsdele in ʼn winkel se vrieskas gebêre het.

Brig Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê klante van ʼn winkel in Makhado was Vrydag erg geskok toe ‘n man by die winkel ingestorm het, ‘n mens se arm uit ‘n vrieskas gepluk en dit rondgeswaai het. “Die polisie is in kennis gestel en die man is op die toneel in hegtenis geneem,” het Mulaudzi gesê. Die winkeleienaars is Saterdag in hegtenis geneem.

Die man het aan die polisie gesê hy het na die winkel gegaan om sy gedeelte van R70 000 en ‘n voertuig te eis wat hy deur die eienaar van die winkel en sy vrou beloof is vir sy rol in ‘n moord.

Die 38-jarige man van die Thengwe informele nedersetting het die polisie daarna na ‘n bergagtige gebied gelei, waar die erg verminkte lyk van ‘n vrou gevind is. Haar arm, oë en privaatdele was uitgesny. Die vrou, wat van Pakistan afkomstig is, is Woensdag vermoor ná sy glo onder die indruk was dat sy ‘n biduur sou bywoon wat vir haar gereël is. Die polisie is ook op soek na die vrou se vriend wat vermoedelik by die moord betrokke was.

Die man, die winkel se eienaar (62) en sy vrou (60) verskyn vandag in die Makhado-landdroshof in verband met die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.