Mens het 8 000 jaar gelede “vuurhoutjies” gebruik

‘n Nuwe teorie oor wat die doel van klei- en klipartefakte van amper 8 000 jaar oud was, kan nuwe lig werp oor die mens se aanwending van vuur.

Dié artefakte word al ‘n geruime tyd in die Museum van Jerusalem uitgestal. Voorheen is gegis dat dié gepunte, silindriese voorwerpe kultiese falliese simbole kon wees.

Prof. Naama Goren-Inbar van die Hebreeuse Universiteit, wat die hoofskrywer was van die artikel wat pas hieroor in Plos One verskyn het, en haar span meen egter dit kon gebruik gewees het om vuur mee aan te steek. Aan die punte is spore van draaibewegings, en op die skagte self ook merke wat lyk of dit deur die snaar van ‘n boog gemaak kon wees.

Deur die boogsnaar om die skag te draai, kan die boog heen en weer getrek word en die wrywing van die punt in ‘n gaatjie in die hout vuurwarm word.

Die voorwerpe is op ‘n argeologiese uitgrawingsterrein in die Sha’ar HaGolan gevind.

Die nuwe bevindinge moet egter nog verder ondersoek word.

Onlangs het navorsers berig dat die inwoners van die Wonderwerkgrot in die Noord-Kaap ‘n miljoen jaar gelede reeds vuur gebruik het om bewustelik kos mee gaar te maak. Elders in Suid-Afrika is tekens gevind dat mense so lank terug as een en ‘n half miljoen jaar gelede vuur benut het, maar daar kon nog nie bewyse gevind word dat vuur toe al vir kosvoorbereiding gebruik is nie.

Hoofbron: http://www.bbc.co.uk/news/science-environment-19168047

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.