Metropolisielid deur winkeleienaar doodgeslaan

Argieffoto: SAPA

Die eienaar van ʼn straatwinkel is in hegtenis geneem nadat hy ʼn Ekurhuleni-metropolisielid doodgeslaan het nadat laasgenoemde die man ingelig het dat hy sy onwettige winkel moet verwyder.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die metropolisie, sê die voorval het Sondagoggend in Daveyton aan die Oos-Rand plaasgevind. Hy sê die winkeleienaar het kos in ʼn woonwa verkoop en metropolisielede het hom ingelig dat hy sy woonwa moet verwyder aangesien hy nie in die area sy besigheid mag bedryf nie. Kgagaso sê die winkeleienaar is reeds vroeër die maand gewaarsku om sy woonwa te verwyder. Hy sê metropolisielede het die winkeleienaar se woonwa probeer sleep toe daar glo ʼn woordewisseling tussen die man en metropolisielede uitgebreek het. Hy het ʼn metropolisielid glo hierna met die vuis geslaan. Die metropolisielid het geval en sy kop gestamp. Hy is op die toneel dood verklaar nadat kollegas en paramedici hom tevergeefs probeer bybring het. Die winkeleienaar is in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.