Metropolisielid vas vir ‘korrupsie’

Argieffoto

‘n Johannesburgse metropolisiebeampte is Vrydag vir korrupsie in hegtenis geneem.

“Die beampte in sy laat 20s is Vrydag deur lede van die interneondersoek-eenheid van die Johannesburgse metropolisiedepartement (JMPD) in hegtenis geneem,” het Wayne Minnaar, hoofsuperintendent van die JMPD gesê. “Die korrupte beampte het ‘n motoris omstreeks 10:00 in Comaweg in Soweto afgetrek nadat die vrou teen 104km/h in ‘n 60km/h-sone gery het. Die beampte het glo aan die vrou gesê dat sy in hegtenis geneem sal word tensy sy ‘n “ander plan” kan maak.”

Die vrou het na ‘n OTM gegaan en R900 onttrek. Sy het R700 aan die beampte oorhandig en toe na haar motor teruggekeer. Sy het die voorval hierna by interne sake aangemeld. “Die beampte is in hegtenis geneem en word tans by die Moroka-polisiestasie aangehou,” het Minnaar bygevoeg.

Die beampte sal Maandag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie en omkopery.

Minnaar sê die JMPD sal korrupsie nooit goedkeur nie en doen ‘n beroep op die publiek om korrupte beamptes by 0800 002 587 te verkla of deur ‘n SMS aan 32840 te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.