Meyerton-man langer as ʼn jaar vermis

Die polisie en ouers van Gidius Seeman Joseph Gertenbach, ʼn 40-jarige inwoner en voormalige karwag van Meyerton, is steeds op soek na hom sedert hy op 22 Desember 2011 vermis geraak het.

Volgens Elize Viljoen, van Stop Misdaad SA (SMSA), het sy ouers die laaste keer van hom gehoor, toe hy hulle geskakel en meegedeel het dat hy werk gekry het op ‘n plaas tussen Nelspruit en Witrivier en dat hy voor Nelspruit se poskantoor wag om deur iemand opgelaai te word. Hy het belowe dat hy weer sal bel sodra hy daar aangeland het, maar dit het nooit gebeur nie.

Sy ouers het hom aan die begin van 2012 as vermis aangemeld. “Elke soektog het sover in ‘n doodloopstraat geëindig. Die feit dat hulle niks weer van hom gehoor het nie, is baie ongewoon, aangesien hy hulle elke week gebel het,” het Viljoen gesê.

Gertenbach is lank en skraal en weeg sowat 50kg. Hy het bruin hare en oë. Hy het ʼn merk aan sy linkervoorarm waar hy 10 jaar gelede met ʼn mes gesteek is. Hy het ook ʼn merk op sy regterslaap.

Enigiemand met inligting kan Viljoen skakel by 082 296 1727. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.