Die tienermeisie wat Dinsdag deur ʼn medeskolier by ʼn hoërskool in Meyerton met ʼn skêr in die nek gesteek is, is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.
Charles Phahlane, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het Woensdag gesê beamptes is na Hoërskool Dr. Malan gestuur om die voorval te ondersoek.
Maroela Media het Dinsdag berig die 16-jarige meisie is in die nek gesteek ná ʼn rusie met ʼn ander meisie (17) by die skool. Na wat verneem word, het die voorval gedurende die eerste pouse plaasgevind. Lees meer hier.
Die slagoffer is na die voorval met ʼn helikopter van ER24 na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem waar sy tans aansterk.
Intussen het die polisie aan Maroela Media bevestig ʼn saak van poging tot moord word ondersoek. Die 17-jarige is in aanhouding geneem en gaan na verwagting vandag in die hof verskyn.
Die leerlinge se name mag nie bekend gemaak word nie omdat hulle minderjarig is.