Middelburg-moord het dorp op hol

Johannes Jacobus (Jan) du Toit (68) en sy vrou, Marietjie (65), is Dinsdagoggend in die vroeë oggendure in hul huis in Louis Bothastraat in Middelburg, Mpumalanga, glo deur twee inbrekers aangeval.

Die inbrekers het toegang tot die huis bekom deur ʼn venster aan die voorkant van die huis te breek. Beeld berig Jan het ʼn geraas gehoor, gaan ondersoek instel en in die inbrekers vasgeloop. ʼn Struweling het ontstaan waartydens Jan glo twee skote van sy vuurwapen geskiet het. ʼn Inbreker het hom toe glo van agter getakel en in sy keel met ʼn skerp voorwerp gesteek. Marietjie het in die voorval ʼn snywond aan haar oor opgedoen. Jan is op die toneel dood. Marietjie is na die Midmed-hospitaal geneem en is reeds ontslaan. Na wat verneem word, het die verdagtes slegs Jan se rewolwer en selfoon gesteel. Jan was ʼn gesiene besigheidman van die dorp.

’n Betroubare bron het aan Beeld gesê die moontlikheid word ondersoek dat dit ’n wraakaanval was, die polisie wou egter nie oor dié aantyging kommentaar lewer nie. Intussen berig die Middelburg Observer dat, sedert die moord gepleeg is, die dorp in rep en roer is en dat alle mobiele alarms in die omgewing teen Dinsdagmiddag uitverkoop was.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, word gevra om kolonel Philla Mahlangu by 076 942 5455 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.