Militêre vliegtuig vermis

ʼn Militêre vliegtuig het Woensdagoggend vermis geraak terwyl dit van Pretoria na Mthatha gevlieg het.

Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, het bevestig dat die vliegtuig vermis word maar kon nie bevestig hoe laat dit van die radar verdwyn het nie. Die vliegtuig het van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria opgestyg en was veronderstel om 10:00 in Mthatha te land. Mabanga wou ook nie bevestig hoeveel mense aan boord die vliegtuig was nie ten einde “spekulasie te vermy.” Volgens Mabanga is daar ʼn soektog te voet in die Ladysmith-area in die noorde van KwaZulu-Natal van stapel gestuur. AlgoaFM berig die vliegtuig is ʼn Dakot C47TP en dat daar glo 11 mense aan boord was. Volgens die radiostasie het die vliegtuig vermoedelik in slegte weer in die Drakensberg-area vermis geraak. Intussen word daar ook berig dat ’n mediese span wat roetine gesondheidsondersoeke op oud-president Nelson Mandela doen gewoonlik op die betrokke vlug is.

Verlede maand het die Daily Dispatch ook berig dat ʼn vliegtuig wat Mandela se mediese span vervoer het ʼn noodlanding by die Mthatha-lughawe gemaak het. Die weermag het egter ontken dat Mandela se mediese span op die vliegtuig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.