Miljoen rande geëis na besnydenis skeefloop

Die gesin van ʼn negejarige seun eis R10,7 miljoen van die departement van gesondheid nadat hy geskend is tydens ʼn mislukte mediese besnydenis.

Die seun, wie se naam nie bekend gemaak kan word nie aangesien hy minderjarig is, het vyf jaar gelede die punt van sy penis verloor na ‘n mediese besnydenis by die Barberton-hospitaal in Mpumalanga skeefgeloop het. “Die saak is na die staatsprokureur verwys aangesien ons vir beweerde mediese nalatigheid gedagvaar word,” het Ronnie Masilela, woordvoerder van die departement van gesondheid, gesê. Milile Labe, die gesin se regsverteenwoordiger, sê die saak is na die hooggeregshof in Pretoria verwys. “Die hof het gevra dat ons inligting verskaf oor die tipe behandeling wat die seun ondergaan het. Ek het die inligting van die hospitaal versoek ten einde voort te kan gaan met die saak.” Die seun se ma sê ʼn mediese intern het die besnydenis uitgevoer. Volgens die ma het die punt van haar seun se penis sowat vyf dae na die prosedure afgeval. Sy sê haar seun sukkel steeds met pyn in sy lies veral wanneer hy urineer. Hy sal glo later geopereer moet word ten einde een dag seks te kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.