Sowat 5 miljoen TV-kykers het Maandagaand na die afskeidsboodskap van koningin Beatrix van Nederland geluister, wat ten gunste van haar oudste seun, Willem-Alexander geabdikeer het.
Willem-Alexander (46) is Nederland se eerste koning in 123 jaar, nadat die vorige drie vorste almal vroue was. Ná hom sal die land weer ‘n koningin hê, omdat Willem-Alexander en sy vrou, Maxima, drie dogters het. In die aanloop tot die kroning was daar groot ongelukkigheid en omstredenheid met die “koningslied” wat spesiaal vir die geleentheid gekomponeer is.
Sowat 800 000 besoekers is vir die geleentheid in Amsterdam verwag, en 10 000 bykomende polisielede is ontplooi.
Willem-Alexander en sy Argentyns-gebore vrou Maxima is ‘n gewilde paartjie, en selfs die republikeinsgesindes brom maar saggies oor die nuwe vorstepaar. Maxima se besluit om na die kroning Rooms-Katoliek te bly, het ook nie veel van ‘n rimpeling veroorsaak nie. Daar word wel bespiegel of Maxima, wat amptelik die titel van “Prinses van die Nederlande” dra, gaan besluit om koningin genoem te word, waarop sy geregtig is.
Oor die algemeen word verwag dat die nuwe koning ‘n warmer gesindheid as sy moeder sal uitstraal, en ‘n hegter verband met die volk sal handhaaf. Selfs in die naburige Vlaandere word die verloop intensief gevolg.