Miljoene rand se skade by SAUK na Isidingo-stel afbrand

Die karakters Cherel en Barker uit Isidingo Foto: Facebook

Brandbestryders het meer as drie ure lank gespook om ʼn brand wat Woensdagaand by die SAUK se Henley Studio’s in Auckland Park, Johannesburg, uitgebreek het, te blus.

Niel Rooi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste sê die brand het omstreeks 20:00 Woensdagaand uitgebreek by die studio waar die sepies Isidingo en Generations verfilm word. “Brandbestryders kon aanvanklik nie die brand beheer nie,” het Rooi gesê. “Daar is steeds baie rook en ons wil seker maak dat die brand ten volle geblus is voordat ons die perseel verlaat.”

Volgens die SAUK was werknemers reeds huis toe en is niemand in die voorval beseer nie. Na beraming is miljoene rand se skade aan die stel aangerig. Aangesien Isidingo drie maande vooruit verfilm word sal die uitsendings egter nie deur die brand geraak word nie. Die sepie se amptelike Twitter-gebruiker, @isidingoSABC3, word brandstigting nie vermoed nie.

Isidingo is weeksaande om 20:30 op SABC3 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.