Miljoene rande weekliks spandeer op huurvlugte vir BBP’s

Pres. Zuma en sy vrou Bongi tydens ‘n staatsbesoek aan Switserland. Foto: GCIS/SAPA

Die weermag gaan so gou as moontlik nuwe stralers vir die president en ander baie belangrike persone koop aangesien daar glo elke week miljoen rande op huurvlugte spandeer word.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging, het aan die Kaapse Persklub gesê die departement spandeer elke week miljoene rande op huurvlugte aangesien die huidige vliegtuie so oud is, het die Saturday Star berig. Volgens die berig wil die departement stralers koop om onder meer president Jacob Zuma, adjunkpresident Kgalema Motlanthe, voormalige presidente, die minister en die adjunk-minister van verdediging te vervoer. Sy sê die tesourie het reeds die nodige fondse beskikbaar gestel om die stralers te koop. “Elke week betaal ons miljoene rande vir huurvliegtuie en kos dit baie meer as wat dit sou kos om vliegtuie te koop,” het Mapisa-Nqakula gesê. “As jy kyk na ‘n paar van ons vliegtuie, hulle is tussen 60 en 62 jaar oud en behoort in ʼn museum te wees. Ek sal eerder nie uitbrei oor ‘n paar van die ervarings wat ek gehad het nie …maar hierdie proses [om vliegtuie te koop ] moet nou begin. ” Mapisa-Nqakula het verlede jaar planne om ʼn presidensiële straler van R2 miljard aan te koop gekanselleer te midde van hewige teenkanting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.