Miljoene vir JFK-items

Voormalige pres. John F Kennedy

Voormalige pres. John F Kennedy

ʼn Wiegstoel wat deur pres. John F Kennedy in die Wit Huis gebruik is en twee vlae uit sy kantoor het meer as $500 000 (sowat R5 miljoen) gehaal by ʼn veiling.

Dié items was onder 228 items wat aan die voormalige president van Amerika verbind kan word en Saterdag op ʼn veiling van Heritage Auctions in Dallas, Texas, verkoop is. Saterdag was die 50ste herdenking van Kennedy se sluipmoord in dié stad.

“Die twee vlae, ʼn vlag van Amerika en een met die presidensiële seël daarop, is vir meer as $425 000 (ongeveer R4,25 miljoen) verkoop,” het Heritage Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die wiegstoel het $87 500 op die veiling behaal. Na verwagting sou dié stoel vir ongeveer $50 000 verkoop word.

Dean William Rudoy, ʼn vrywilliger in Kennedy se presidensiële veldtog in 1960, het die items besit. Hy versamel al die afgelope 50 jaar memorabilia van die president.

ʼn Versamelaar uit die suidweste van Amerika, het die wiegstoel en vlae aangeskaf. “Die hoë pryse wat behaal is, is ʼn teken van die meegevoel en agting wat mense steeds vir Kennedy het,” het Tom Slater, direkteur van Heritage, gesê.

Kennedy, wat aan chroniese rugpyn gely het, het die wiegstoel glo gereeld tydens vergaderings en lang ure by die werk in die Oval Office gebruik.

Kennedy is in die ouderdom van 46 op 22 November 1963 doodgeskiet, minder as drie jaar nadat hy as president verkies is.

Die 24-jarige Lee Harvey Oswald is minder as drie ure ná die skietery in hegtenis geneem. Hy is twee dae later regstreeks op die televisie doodgeskiet toe hy na ʼn staatsgevangenis oorgeplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.