Min steun Pretoria-naamsverandering

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

AfriForum het Dinsdag ʼn memorandum aan die Tshwane-metro oorhandig waarin aangevoer word dat die jongste reeks openbare vergaderings wat die metroraad oor Pretoria se voorgestelde naamsverandering gehou het, getoon het dat min mense die voorgestelde naamsverandering van Pretoria ondersteun. AfriForum voer ook in die memorandum aan dat ampsdraers en amptenare van die metro gepoog het om die openbare vergaderings te manipuleer om ʼn pro-naamsveranderingagenda te bevorder en dat die vergaderings as gevolg hiervan nie ʼn bona fide-poging tot openbare deelname was nie.

Benewens die skriftelike besware teen die naamsverandering wat tydens die openbare vergaderings ingedien is, het AfriForum ook vandag saam met die memorandum ʼn verdere 4 310 skriftelike besware van lede van die publiek by die metroraad ingedien. Dinsdag is die laaste dag waarop die publiek insette rakende die naamsverandering kan lewer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was die jongste reeks openbare vergaderings ʼn mislukte poging van die metroraad om die foute wat sedert die begin van die naamsveranderingsproses begaan is, reg te stel. “Pleks dat die foute reggestel is, het die metroraad met hierdie openbare vergaderings weer elke denkbare flater begaan, wat AfriForum handig te pas sal kom om enige besluit om Pretoria se naam te verander in die hof te beveg,” het Kriel bygevoeg.

Van die gebreke in die jongste openbare vergaderings wat in AfriForum se memorandum uitgewys word, is onder meer die volgende:

  • Tydens die tweede openbare vergadering in Refilwe het burgemeesterskomiteelid, Jacob Masango, aangedui “that the people have spoken and that Pretoria’s name would be changed to Tshwane”. Hierdie uitspraak wat op 16 Oktober 2012 gelewer is terwyl die publiek nog tot 6 November 2012 insette kon lewer, bevestig dat hierdie vergaderings nie ʼn bona fide- openbare deelnameproses was nie en dat ʼn besluit reeds geneem is.
  • Amptenare het die vergaderings probeer manipuleer deur die pro-naamsveranderingsagenda openlik te probeer afdwing. Daar was ook pogings om diegene wat ten gunste van die behoud van Pretoria se naam is, te intimideer. By een vergadering het die persoon wat die mikrofoon na lede van die publiek wat ʼn spreekbeurt aangevra het, moes neem, openlik haar afkeer van pro-Pretoria standpunte getoon. Sy het selfs ʼn inwoner van die Refilwe-township, wat dit gewaag het om te vra dat Pretoria se naam nie verander moet word nie, openlik uitgetrap. Dit kan as intimidasie van enige een wat dit wou waag om ʼn pro-Pretoria standpunt te stel, gesien word.
  • Die voorsitter van die eerste vergadering in Refilwe het die vergadering afgestel toe dit geblyk het dat die meerderheid van die aanwesiges ten gunste van die behoud van Pretoria se naam was.
  • Die openbare vergaderings in Centurion, die Pretoriase stadsaal en Bronkhorstspruit is goed bygewoon en dit was tydens dié vergaderings duidelik dat daar groot steun vir die behoud van Pretoria se naam is. Die vergaderings in townships is swak bygewoon ten spyte van die feit dat die vergaderings wyd geadverteer was. Dit bevestig dat daar in hierdie gebiede beperkte entoesiasme vir Pretoria se naamsverandering is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.