Minderjarige het ‘moord op ET erken’

Eugene Terre'Blanche kort nadat hy in 2004 uit die tronk vrygelaat is. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die minderjarige wat beskuldig word van die moord op die voormalige AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, het die polisie geskakel en gesê hy het hom vermoor.

Klaas Nkathule, van die polisie, het in die rondgaande hof op Ventersdorp getuig hy het op 3 April 2010 omstreeks 17:55 ʼn oproep ontvang waartydens ʼn die persoon wat geskakel het aan hom erken het dat hy Terre’Blanche vermoor het. “Ek het hom gevra van waar af skakel hy…..hy het gesê hulle kruip weg in ʼn kamp naby ʼn plaas. Hy het gesê hulle wil na die polisiestasie toe kom, maar dat hulle bang is vir witmense van ander plase, aangesien hulle ons kan vind en doodmaak”. Die minderjarige het aan Nkathule gesê hulle is nie betaal vir die dag se werk nie. “ Ek kon hoor die persoon aan die ander kant van die foon was nie ʼn volwassene nie”.

Die minderjarige se regsverteenwoordiger, adv. Norman Arendse, het vroeër aan die hof gesê die beskuldigde het op die dag van die moord Terre’Blanche se huis binnegegaan deur ʼn oop venster. Hy sê volgens die minderjarige was Terre’Blanche reeds dood en dit is om die rede dat die beskuldigde bloed op sy klere gehad het. Arendse sê die minderjarige sal ontken dat hy deel gehad het in die moord of van die slagoffer gesteel het. Arendse het gesê niemand verdien om te sterf soos Terre’Blanche gesterf het nie maar het ook daarop gesinspeel dat Terre’Blanche nie die enigste slagoffer was nie. Hy sê die minderjarige moes by die skool gewees het in plaas daarvan om te werk op Terre’Blanche se plaas. Arendse sê dit kom neer op kinderarbeid en dat die minderjarige uitgebuit is en in haglike omstandighede gewerk en gewoon het. Hy sê die minderjarige is met alkohol omgekoop en daar is bewerings van verbale, fisiese en seksuele mishandeling.

Die tweede beskuldigde, Chris Mahlangu (28), se regsverteenwoordiger Kgomotso Tlouane het aan die hof gesê sy kliënt was nie bewus van die gevolge van verklarings wat hy gedurende sy borgaansoek gemaak het nie. Hy het gevra dat Mahlangu se beëdigde verklaring wat hy tydens sy borg afgelê het nie deel uitmaak van die verhoor rekord nie, Die Staat het egter versoek dat dit deel uitmaak van die saak. Terre’Blanche is in April verlede jaar op sy plaas buite Ventersdorp vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.