Minderjarige ontken dat hy ET vermoor het

Eugene Terre'Blanche kort nadat hy in 2004 uit die tronk vrygelaat is. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die minderjarige wat beskuldig word van die moord op die voormalige AWB-leier, Eugene Terre’Blanche het in die rondgaande hof in Ventersdorp ontken dat hy deel gehad het in die moord.

Die minderjarige se regsverteenwoordiger, adv. Norman Arendse, het aan die hof gesê die beskuldigde het op die dag van die moord Terre’Blanche se huis binnegegaan deur ʼn oop venster. Hy sê volgens die minderjarige was Terre’Blanche reeds dood en dit is om die rede dat die beskuldigde bloed op sy klere gehad het. Arendse sê die minderjarige sal ontken dat hy deel gehad het in die moord of van die slagoffers gesteel het. Arendse het gesê niemand verdien om te sterf soos Terre’Blanche gesterf het nie maar het ook daarop gesinspeel dat Terre’Blanche nie die enigste slagoffer was nie. Hy sê die minderjarige moes by die skool gewees het in plaas daarvan om te werk op Terre’Blanche se plaas. Arendse sê dit kom neer op kinderarbeid en dat die minderjarige uitgebuit is en in haglike omstandighede gewerk en gewoon het. Hy sê die minderjarige is met alkohol omgekoop en daar is bewerings van verbale, fisiese en seksuele mishandeling.

Die minderjarige en Chris Mahlangu (28) word aangekla van moord, huisroof, poging tot roof met verswarende omstandighede en crimen injuria. Albei het onskuldig gepleit op al die aanklagte. Mahlangu beweer hy het uit selfverweer opgetree. Terre’Blanche is in April verlede jaar op sy plaas buite Ventersdorp vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.