Miniatuur gorrelskurwepaddas verstom navorsers

’n Wilde Gorrelskurwepadda van Durban, Suid-Afrika. (Foto: James Baxter-Gilbert)

Navorsers van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat gorrelskurwepaddas (Amietophrynus gutturalis) se algehele liggaamsgrootte skaars ʼn honderd jaar nadat dié spesie op die eilande Mauritius en Réunion bekendgestel is met tot ʼn derde gekrimp het in vergelyking met die grootte van hul eweknieë in Suid-Afrika.

Gorrelskurwepaddas is inheems in Afrika en wyd bekend vir hul grootte. Hierdie paddaspesie is in 1922 in Mauritius bekendgestel as ʼn biokontrole vir die rietkewer, en in 1927 in Réunion om malariadraende musiekte te beheer.

Navorsers wat besig is om dié geskiedenis te ondersoek, is egter verstom oor hoeveel kleiner die eilande se skurwepaddas geword het.

“Dit is bekend dat verdwerging onder amfibieë in baie stambome oor miljoene jare heen plaasgevind het, maar hierdie studie het getoon dat dit oor ʼn tydperk van minder as 100 jaar gebeur het,” sê dr. James Baxter-Gilbert van die Sentrum vir Indringerbiologie.

‘n Volwasse vroulike Gorrelskurwepadda van Durban (A), in vergelyking met ‘n volwasse manlike en vroulike Gorrelskurwepadda van Mauritius (B). (Foto: James Baxter-Gilbert/John Measey).

Nog ʼn indrukwekkende bevinding is die drastiese verkorting van hierdie amfibieë se agterbene. Volgens die navorsers kan dit te wyte wees aan veranderinge in hul voortplantingstrategie, of die afwesigheid van die padda se natuurlike vyande.

Dit kan moontlik ook toegeskryf word aan die feit dat verdere verspreiding nie meer ʼn belangrike dryfveer was toe hulle aanvanklik reg oor die eilande versprei is nie. Soortgelyke tendense is al opgemerk onder eilandvoëls wat hul vermoë verloor om te kan vlieg.

Hoewel bioloë bekend is met hierdie tipe veranderinge wat plaasvind wanneer koloniserende dierepopulasies aanpas by nuwe gebiede, is grootskaalse veranderinge in liggaamsgrootte hoogs onreëlmatig in so ʼn kort tydperk.

“Dikwels verdwerg groot geboude vastelandspesies met die verloop van tyd soos wat hulle by die nuwe omgewing aanpas, terwyl klein geboude vastelandspesies reusagtig sal word soos byvoorbeeld die dodo’s van Mauritius met hul bo-normale grootte,” sê Gilbert.

Hierdie navorsing is ʼn fassinerende eerste stap in die begrip van hoe biologiese indringing die biologie van hierdie amfibiese eiland-indringer radikaal kan verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsabe ·

Met habitat wat al kleiner word, moet die paddatjies vinnig volwasse word en voortplant om die specie te laat voortleef voor die alles deur die mens-specie oorgeneem of vernietig word.

Die Wolf ·

Paddaboutjies is n lekkerny. Kry dalk nie kans om groter te word nie.

Adriaan ·

Die algemene name van spesies word altyd met ‘n kleinletter geskryf. In hierdie artikel skryf julle soms “gorrelskurwepadda” met ‘n hoofletter asof dit ‘n eienaam is. Dit is nie korrek nie.

Pieter ·

Evolusie in werking. Dit is aanpassing by ‘n veranderde habitat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.